MOSSELBAAI NUUS - Anton Siebert (36) is 'n onderwyser by Diaz Primêr en het aan Mr Global SA 2024 deelgeneem. In Mosselbaai word hy beskryf as iemand wat stilweg wonderlike werk vir ons diere doen.
Vertel ons 'n bietjie van jouself - wie is jy en wat doen jy?
Ek is Anton Siebert, en ek is 'n doodgewone laerskool-onderwyser, asook die stigter van die Project Blessing Animal and Community Care NPC.
Hoe lank woon jy al in die Mosselbaai-omgewing?
Ek woon nou 11 en 'n half jaar hier.
Wat is jou gunstelingding van Mosselbaai?
Die mense van Mosselbaai. Dit is die mense wat Mosselbaai maak.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
In my vrye tyd is ek meestal besig met die diere en kinders in die gemeenskap.
Wat is iets omtrent jou wat mense dalk nie weet nie?
Dat ek 'n digter is en verlede jaar my eerste digbundel uitgebring het, en ook dat ek my eie klerereeks begin.
Wie of wat het die grootste invloed op jou lewe gehad?
My verlede het die grootste invloed op my gehad en my die persoon gemaak wat ek vandag is. Dis hoekom ek omgee vir diere en mense, want ek wil nie hê hulle moet dieselfde pyn en gesukkel deurgaan nie.
Waarop is jy die trotsste in jou lewe?
Deur alles wat ek al bereik het in my lewe, van SA kleure in drie verskillende sporte tot titels in skoonheidswedstryde oorsee, is ek die trotsste dat ek na my ouers kan omsien en hulle elke dag kan trots maak.
As jy enige persoon vir koffie kon nooi, wie sou dit wees en hoekom?
Ek sou sê die Here, maar 'n mens kan elke sekonde met die Here praat, so ek sal my twee oupas kies, want ek kon hulle nooit ontmoet nie.
Wat is een ding wat jy graag vir die mense van Mosselbaai wil sê?
Dat alles vir 'n goeie rede gebeur, al sien jy nie nou die goeie in die rede nie. Hou altyd die Here se hand vas. Hy weet wat die beste vir jou is, moet Hom nooit bevraagteken nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’