MOSSELBAAI NUUS - “Blou Flamink” is die lang-verwagte duet tussen die towerstemme van Petronel Baard en Sarah Theron.
Die eerste samewerking laat die “Lang Vrou” - Petronel - en die “Vurige Diva” - Sarah - gestalte gee aan iets vars en verkwikkend.
In Oktober 2023 ontvang Petronel die digbundel, Just Jo, van die skrywer Jak J Brits. Een Sondagoggend by haar huis in Reebok, naby Mosselbaai, terwyl die pienk flaminke in Groot Brak se mond rustig hul gang gaan, het die “Blou Flamink” uit haar musiekpen gevloei.
‘n Splinternuwe, droom-mooi toonsetting van die gedig, "Ewige gejaag".
“Ek sou in ‘n Blou Flamink verander “Vlieg terwyl sterre oor al wat ‘n slaperige landskap is “Skyn soos sterre, net om ‘n bietjie nader aan jou te wees.”
Kollegas
Petronel en Sarah is oor die jare kollegas wat “van mekaar geweet het”.
‘n Sterk vriendskap en kollegiale band ontwikkel in 2023 toe albei as mentors vir ATKV-Crescendo agter die skerms begin saamwerk.
Gou verwys die twee kragkunstenaars spottenderwys na hulself as “Lank & Vurig!” In 2024 nader Petronel vir Sarah om “Blou Flamink” as duet saam met haar op te neem.
Fred den Hartog, ook bekend as lid van die hoogs suksesvolle musiekgroep, Die Heuwels Fantasties, was die aangewese en perfekte vervaardiger vir “Blou Flamink”.
Met Grandall Vlotman op klawers as basis vir Fred (ook op kitaar en bas) se sielvolle verwerking, is ‘n duet gebore. Sarah en Petronel se eerste duet is ‘n kragtoer van emosie en heimwee - gemik om die ore en hart van die luisteraar te versterk in hulle menswees.
Herinnering
“Blou Flamink” word opgedra in liefdevolle herhinnering aan hulle vriend in musiek, Helmut Meijer (1978-2024).
Soos die digter sê: “Tyd is ons duurste kommoditeit. Dit kan nie gekoop, vervang of vermenigvuldig word nie. Daarom moet elke oomblik gelewe word.
“Elke blik uit die grootwordjare moet opnuut waardeer en gevier word en elke keuse, vorentoe, moet ‘n besluit wees vir die beter. ‘n Verandering tot geluk.
“Die beeldspraak van ‘n flamink, in hierdie geval ‘n blou een, vertel ook oor die opofferings wat ‘n mens sal maak, om eindelik by die liefde uit te kom, dit te kan vashou en vir ewig te kan geniet”.
"Blou Flamink” is beskikbaar op alle stromingsplatforms.
Petronel Baard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’