Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die agtjarige meisie wat op Nuwejaarsdag in die rivier by die Groot-Brakriviermonding verdrink het, se naam is bekend gemaak.
Sy was Amira Kloupas (8), die dogter van Ruduhan Scheepers en Tasneem Kloupas van Wolwedans, Groot-Brakrivier.
Amira se ma is baie hartseer en vertel hoe hulle die Vrydagaand kerk toe is en hoe Amira gebid het. Sy wou vroegoggend Sondag, op Nuwejaarsdag, see toe gaan, maar omdat dit altyd so besig is, wou haar ouers nie gaan nie. Amira het egter aangehou en die gesin, met hul tweejarige dogter, Sameera en ouma, Maria Scheepers, is strand toe saam met ander familie.
Die Groot-Brakriviermonding het weer toegespoel en die kinders het in die vlakkerige water van die rivier baljaar. Amira se familie het ongeveer 16:00 die middag na haar begin soek, waarna ander swemmers haar liggaam uit die water gehaal het.
Lewensredders van die nabygeleë Suiderkruis-strand en ook die Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuurdienste het vir meer as 'n uur kardiopulmonêre resussitasie toegepas, maar sy is op die toneel dood verklaar. Die skakelbeampte van die Groot-Brakrivier se polisiestasie, sersant Lauriane Botha, het vanoggend weer by die gesin gaan besoek aflê. Sy onthou hoe Amira haar gegroet het as sy verby haar huis geloop het en geroep het, "Hallo tannie Pippie!". "Ons gaan haar vrolike geselsies en gelag baie mis." Begrafnisreëlings sal binnekort bekend gemaak word. Beraders word ook gereël om die gesin by te staan om hul smart te verwerk.
VIDEO - Naam bekend van agtjarige meisie wat verdrink (Video: Alet Engelbrecht)
Vorige artikel: Jong meisie verdrink in rivier by Groot- Brakriviermonding
Sersant Lauriane Botha van die Groot-Brakrivier-polisiestasie praat met Amira se pa, Ruduhan Scheepers.
Sers Lauriane Botha ondersteun Amira se ma, Tasneem Kloupas by hul huis in Wolwedans, Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'