GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Met die gejuig van haar klasmaats en ander gemeenskapslede het Jazmin Speelman as die toppresteerder op die rooitapyt in Groot-Brakrivier Sekondêr se amfiteater afgestap.
Dis tradisie by dié skool vir elke leerder om die rooitapyt te stap en hul uitslae in ontvangs te neem.
Jazmin sê 'n groot motivering vir haar deur 2024, was om haar omstandighede te verbeter en deur haar harde werk vir haarself 'n beter lewe te bewerkstellig.
Met haar onderskeidings in lewenswetenskappe, Afrikaans en Engels eerste addisionele taal, is sy op pad na die Universiteit van die Wes-Kaap om verpleegkunde te gaan studeer.
"Ek wou nog altyd iets in die mediese veld doen en het 'n passie daarvoor om mense te help, so dit is die perfekte loopbaan vir my."
Met 'n terugblik op haar jare in die hoërskool sê sy sy het maklik vriende gemaak en sy sal veral die leerderraad-toer en sekere geleenthede wat die skool aangebied het, soos uitstappies na loopbaanuitstallings, onthou.
Sy het darem nie nét geleer oor die laaste vyf jaar nie, maar ook haar vrye tyd geniet.
"Ek lees graag boeke, kuier saam met my vriende en geniet ook om nuwe dinge te leer. Ek lees graag romantiese boeke en die laaste boek wat ek gelees het is Veilige hawe vir die hart deur Marilé Cloete."
En nou lê daar 'n verhaal van haar eie voor.
"Ek sien beslis uit na universiteitlewe, om nuwe dinge te ervaar en die nuwe hoofstuk in my lewe te begin."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’