MOSSELBAAI NUUS - Dr. Jopie Coetzee, skrywer, digter en dramaturg, stel met dankbaarheid sy Paastrilogie met die aanvang van Paasnaweek bekend.
"'n Nuutskeppende werk in drie genres, naamlik 'n roman, drama en digbundel, oor die naweek wat die wêreld verander het," vertel hy.
"Alhoewel fiktief, is die drieluik diep gewortel in alles wat vir gelowiges heilig en dierbaar is."
Coetzee is 'n voormalige ouderling, akademikus en mynbouingenieur wat al in 26 lande op vyf kontinente gewerk het. Hierdie wye lewenservaring verryk nou sy passie as 'n skrywer, digter en dramaturg oor die Pase.
Hy en sy vrou, Pieternel, woon in Mosselbaai. Coetzee sê vir elke bladsy wat hy publiseer, plant of skenk hy 'n spekboom as teken van hoop en dankbaarheid.
Sy trilogie bestaan uit die roman Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure, die drama, Judas Iskariot se ouers, en die digbundel, Nuut, alles nuut.
Oor die roman
Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure vertel die verhale van 40 randfigure wie se name mettertyd vergete geraak het, van die huiseienaar in wie se bokamer die Laaste Avondmaal plaasgevind het tot die tuinier wat Jesus se graf voorberei het. Elke karakter vertel hul eie Paasverhaal in hul unieke stem en vertelstyl. Dit plaas die leser in die skoene van elk van hierdie eerste getuies - die goeies en die skurke. In een van die verhale is die dialoog in sewe Afrikaanse tongvalle - 'n woordfees oor die ryke aard van Afrikaans.
Die roman is ook deur Bandhulp vir Blindes in 'n luisterboek vir hul 17 000 lede omskep.
Die roman, Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure.
Oor die drama
Judas Iskariot se ouers gaan oor dié wat agterbly ná 'n tragedie, geïntensiveer deur die ouers van die mees veragte persoon in die Christendom.
Vanuit hierdie ondenkbare oogpunt ontvou 'n seldsame en aangrypende Paasdrama deur die hart, siel en verstand van 'n vader en moeder wat agtergebly het ná 'n onbegryplike familietragedie.
Deur intieme dialoog en simboliese handeling gee die drama stem aan die gewig van rou, die las van twyfel, die steek van verwerping en die onbeantwoorde vrae wat bly voortleef in die stilte van dié wat agterbly.
Die drama, Judas Iskariot se ouers.
Oor die digbundel
Nuut, alles nuut bevat gedigte en gebede oor die naweek wat die wêreld verander het. Die Paasverhaal word in helder, liriese taal oorvertel, getrou aan die Skrif, maar kraakvars verwoord.
Hierdie gedigte volg die gebeure van die Lydenstyd en Opstanding deur die oë van dié wat gekyk, geween en onthou het. Elke gedig word 'n meditasie oor goddelike liefde en menslike broosheid.
Die digbundel, Nuut, alles nuut.
Die trilogie is deur Coetzee self uitgegee, en deur Groep7 Drukkers gedruk en gebind. Dit word ook tans by die Art@39Long-galery in Groot-Brakrivier uitgestal.
Vir meer inligting oor Coetzee en sy skryfwerk, besoek sy Facebook-blad, Jopie Coetzee (skrywer). Vir enige navrae, kontak hom op WhatsApp by 082 336 8118.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’