MOSSELBAAI NUUS - ’n Mosselbaai-matriekleerder van 2022 het haar graad cum laude voltooi én twee toekennings in haar departement ontvang - nou lê haar honneurs voor.
Zandri van Greunen (21) het nog altyd ’n liefde vir tale gehad. Daarom was die keuse van studies ná skool dus eenvoudig: BA (taal en kultuur) aan die Universiteit Stellenbosch.
Van Greunen het haar skoolloopbaan by Laerskool Hartenbos en toe Curro Mosselbaai voltooi.
“Ek het van kleins af al in tale belanggestel, en ek hou verskriklik baie daarvan om te lees. Ek was bevoorreg genoeg om dramaklasse by Kristie Herbst op skool te ontvang, en dit het vir my hierdie hele nuwe wêreld oopgemaak.
“Sy het my onsettend baie geleer, nie net oor drama nie, maar ook oor hoe wonderlik die Afrikaanse literêre wêreld is. As dit nie vir haar was nie, sou ek nie geswot het wat ek swot nie. Sy is ’n lieflike mens en mentor vir my,” vertel Van Greunen.
Sy voltooi haar derde jaar met twee toppryse: Die toppresteerdersprys vir Afrikaans en Nederlands 348, asook die WEG Louw-prys vir die beste prestasie in letterkunde op derdejaarsvlak. Die toppresteerdersprys het sy met een van haar medestudente gedeel, maar die ander alleen ontvang.
Die Departement Afrikaans en Nederlands se voorsitter, dr. Amanda Marais, en Zandri van Greunen by die departement se prysuitdeling.
“My hoofvakke was Afrikaans en Nederlands, asook taalwetenskappe. Dit was vir my geweldig interessant omdat ek ook vakke soos Frans en filosofie kon neem. Ek doen nou my honneurs in Afrikaans en Nederlands. My fokus is die letterkunde, maar ek neem ook die toegepaste taalkunde-module, wat my toelaat om ook op een van my ander passies te fokus - vertaling.
“Ander modules wat ek hierdie jaar neem sluit in Afrikaanse poësie, literêre teorie, Nederlandstalige literatuur, Afrikaanse teksanalise en Afrikaanse prosa. Dit is basies ’n mengelmoes van al die lekker goed wat jy in jou honneurswerkstuk kan gebruik.”
En is verdere studies ook in haar beplanning, of betree sy binnekort die werksmag?
“Ek sal bitter graag my meesters- en doktorsgraad wil voltooi, maar ek besef ook dat dit ’n baie groot voorreg is, en dit hang ook af van die beskikbaarheid van beurse.
Miskien gaan werk ek ’n bietjie en kom dan weer na die akademie toe terug - ons sal maar sien. Ek is dankbaar vir enigiets.
“Ek haat kapitalisme, en as ek vir ewig kon swot, dink ek sou dit my beroep wees. Op ’n ernstige noot dink ek nie dit maak aan my saak nie. Solank ek net met die goed waaroor ek passievol is kan werk - taal en die letterkunde.
“Ek het onlangs besef dat ek daarvan hou om met studente te werk omdat ek ook as tutor by die universiteit werk. Ek stel ook belang in joernalistiek en is die Afrikaanse subredigeerder vir die studentekoerant, Die Matie. Miskien is dit ook iets waarna ek sal kyk. Ons sal sien! Dit sal ook vir my lekker wees om by ’n uitgewery soos Jonathan Ball as fiksieredakteur te kan werk.”
Maar vir eers is dit vir haar nog die lewe van ’n student. Alles wat sy elke dag leer en die mense saam met wie sy werk stel sy hoog op prys.
“Dis vir my so ’n groot voorreg om deel te wees van die departement, en dit voel werklik asof ek ’n plek gekry het waar ek ten volle myself kan wees.
“My grootste uitdaging sal seker iets soos tydsbestuur wees, maar ek dink dit kom maar reg met tyd (eintlik nogal ironies). Ek tutor vir die eerstejaars, is ’n departementele assistent en die voorsitter van die departement se studenteverenigning, VER[r]AS. Dit is nogal moeilik om al die verpligtinge en plesier te bestuur, maar ek dink dis seker waaroor die lewe gaan.
“Andersins dink ek dit is ook gesond om so af en toe saam met my vriende ’n bier by Bohemia te drink. Ek is baie bevoorreg om goeie vriende te hê wat uiteenlopende goed swot. My vriende is baie belangrik vir my, so ek spandeer die meeste van my tyd wat ek nie werk nie saam met hulle.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’