MOSSELBAAI NUUS - Gerhard Shacks, ’n naam wat vir talle Mosselbaaiers sinoniem met varsgebakte ciabatta-brode is, het op Dinsdag 18 Augustus sy stryd teen kanker verloor.
“Sommige mense laat besittings, foto’s en herinneringe na, ander laat iets na wat deel word van honderde mense se lewens. Gerhard se nalatenskap is brood,” sê Jooste Bergh.
Hy en sy vrou, Jean-Mari, was vriende met Shacks, en dit is ook by hulle waar hy die laaste drie weke van sy lewe deurgebring het.
“Hy was ’n baie groot legende in die dorp. Die hele wêreld het hom geken met sy ciabatta-brode. As jy op Facebook intik ‘ciabatta-brood’, dan gaan jy sien hoe baie fights is daar oor mense wat sê wie’t die bestes, en oom Gerhard het altyd loshande gewen.”
Hy het bekend geraak vir sy bakkery, Gerhard’s Ciabatta, waar hy met sy passie vir bak eenvoudige bestanddele in iets buitengewoon omskep het. “Sy kreatiwiteit het geen perke geken nie. Hy het ciabatta in ’n verskeidenheid van geure gebak, met bestanddele soos rooibos, sonneblomsaad, heuning, songedroogde tamaties en olywe.
“Daar was dae wanneer hy 02:00 die oggend begin bak het. Hy het by tye tot 102 brode in een dag gebak!”
Jooste sê ’n foto wat Jean-Mari van Shacks geneem het, waarop hy twee van sy ciabatta-brode, een in elke hand, vertoon, vang sy trots mooi vas. “Daar is iets so wonderbaarlik eenvoudig daaraan - ’n man wat iets vashou wat hy met sy eie hande gemaak het, wetend dat dit genot aan ander sal verskaf.
“Sy afsterwe laat ’n leemte by dié wat hom geken het, maar sy nalatenskap eindig nie hier nie.”
Die nuwe eienaars van Gerhard’s Ciabatta, Ilse en Charles van den Heever, het dit op hulself geneem om op die tradisie wat Gerhard geskep het, voort te bou.
Shacks was vir hulle ook ’n geliefde vriend. “Sy hande het brood gemaak wat beide liggaam en gemeenskap gevoed het, en sy teenwoordigheid het die bakkery met ’n stil goedheid en humor gevul. Diegene wat hom geken het sal sy sagte glimlag, bestendige werketiek en die manier waarop hy die eenvoudige plesier van varsgebakte brood gedeel het, mis.”
Die Berghs het ook elkeen bedank wat hul medelye betuig het. Jooste sê hul foon hou omtrent nie op lui nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’