MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Charl Hattingh, Hoërskool Punt se nommer twee matriek, het besluit sy toekoms lê êrens tussen die natuur en fisika.
Hy is op pad na die Universiteit van Stellenbosch vir BSc molekulêre biologie en biotegnologie - nogal 'n mondvol, erken hy laggend.
"Ons familie is nog altyd baie lief vir die natuur; my ma het natuurbewaring geswot. En van gr. 10 af vat ek toe nou fisika, toe is dit vir my lekker! So, dit was die logiesste rigting, en ek het geen idee watter ander rigting ek sou kies nie."
Om tot op die punt van studeer te kom is natuurlik nie sonder sy uitdagings nie. Vir Hattingh was dit om gemotiveerd te bly. "Ek het 'n baie sterk support network, my familie en vriende, maar om te sê: 'Oukei, ek gaan nou sit, ek gaan nou vir twee uur leer, ek gaan nou nie iets anders doen nie,' - dít was die moeilikste."
VIDEO: Charl gesels ná sy uitslae
Gelukkig het Hattingh darem 'n lys van dinge gehad om te doen wanneer die motivering nou rêrig te moeilik raak. "Ek doen graag landloop, en as ek niks het om te doen nie en ek's rêrig verveeld, dan skilder ek, anders speel ek videospeletjies."
En 'n algehele hoogtepunt was daar ten minste ook. "Jou verhoudings met almal is nou [in matriek] soort van die beste wat dit kan wees, ek dink met die onderwysers ook, so dis lekker om met die onderwysers op 'n ander vlak te connect."
Dit was vir Hattingh baie hartseer om vir 'n klomp van hulle totsiens te sê, maar daar is tog iéts aan die finaliteit van onderwysers groet en die tyd saam met vriende. "Dit was lekker om alles vir die laaste keer saam te doen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’