MOSSELBAAI NUUS - Die eienaar van die Powervan Mossel Bay-treintjie, Charl Marais, het voetgangers en motoriste gewaarsku om versigtig te wees ná ’n man sowat ’n maand gelede deur dié trein raakgery is.
Volgens Marais het die man ten tye van die ongeluk oorfone gedra.
Hy het na wat verneem word op die oggend van 9 Februarie op die voetgangergedeelte oor die treinbrug in Hartenbos gestap. Dié deel word met ’n muur van die treinspoor geskei.
Marais sê die man het aan die einde van die voetgangers se paadjie óm hierdie muur beweeg en voor die trein ingestap. Weens die oorfone kon hy die trein se fluit glo nie hoor nie.
Die woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, Shimoney Regter, het bevestig dat sy nooddienste na die toneel ontbied is en met hul aankoms ’n assessering uitgevoer het.
“Die pasiënt was in daardie stadium in ’n ernstige toestand, het dringend mediese sorg nodig gehad en is vir verdere behandeling na ’n hospitaal geneem.”
Regter het Mossel Bay Advertiser vir verdere besonderhede aangaande die voorval en slagoffer na die polisie verwys. Teen die ter perse gaan was die polisie se verklaring egter nog nie beskikbaar nie.
Die treinbrug in Hartenbos waar die voorval plaasgevind het. Foto: Verskaf
Marais sê hy het uit besorgdheid na die man se toestand verneem. Volgens hom was die man vir ’n tyd lank in die intensiewesorgeenheid, maar is intussen ontslaan. Hy kon nog nie vir kommertaar bereik word nie.
Marais het voetgangers en fietsryers gemaan om nie op of naby die treinspoor te stap of ry nie. Afhangende van waar die trein ry, beweeg dit teen ’n spoed van tussen 15 en 30 km/h, sê hy.
Verder sê hy die trein weeg ’n hele paar ton, en dit kan tussen 5 en 10 sekondes neem om tot ’n totale stilstand gebring te word.
“Hoewel dit dalk mag klink soos genoeg tyd, het ons al ’n paar noue ontkomings gehad. En ons kan nie spesifieke tye gee vir wanneer die trein ry nie, want dit varieer,” sê Marais.
Sy waarskuwing geld ook vir motoriste by kruisings wat kanse vat eerder as om te wag dat die trein verbykom.
Die Powervan Mossel Bay-trein ry tans tussen Hartenbos en Glentana, maar Marais sê hulle het aan die einde van verlede jaar ook toetsritte na Mosselbaai se kant toe uitgevoer. Dit is net nóg ’n rede waarom hy veiligheid rondom treinspore benadruk. Die beplande nuwe roete het heelwat kruisings met die pad, en daar is baie voetgangers. Daarom vra Marais die publiek mooi: “Wees net bewus!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’