MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het sedert Maart sy gerekenariseerde eNatis-leerlinglisensietoetsing in werking gestel.
Die munisipaliteit sê die voordele hiervan sluit in die feit dat dit elektronies en vinnig is, en ook korrupsie uitsluit en mannekrag spaar.
Vyftien kandidate kan op 'n slag getoets word.
"Volgens die bestuurderslisensie-assistentsuperintendent, Nicky Jacobs, het hierdie sentrum reeds 466 mense deur die aanlyn proses getoets, waarvan 136 geslaag het," het burgemeester Dirk Kotzé ná 'n onlangse besoek aan die toetssentrum by die lisensiekantoor in Marshstraat gesê.
Jacobs het tydens die besoek verduidelik dat die nuwe aanlyn toetse nie net moontlike bedrog teenwerk nie, maar aansoekers ook 'n meer realistiese ervaring van die motorbestuursproses bied.
Omdat die stelsel op kunsmatige intelligensie berus, kan eksaminators nie beskuldig word dat enigeen bevoordeel of benadeel word nie.
Vir meer inligting, skakel 044 606 5000 en vra om met die bestuurderslisensietoetssentrum verbind te word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’