Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Leerder is verlede Vrydag, 31 Januarie raakgery toe sy net ná die kruising by Mikeva Hyper oor die pad gehardloop het en deur 'n aankomende wit Isuzu-bakkie getref is.
Die leerder het in die proses bo-op die voorkant van die bakkie beland en toe voor die bakkie afgeval. Sy het skraapwonde aan haar linker elmboog opgedoen asook haar knie.
Daar is skraapwonde aan haar gesig en is sy na die hospitaal geneem waar sy gemonitor is vir harsingskudding.
Die 75-jarige bestuurder van die bakkie en sy twee kleinkinders wat saam met hom in die voertuig was, was getraumatiseer maar ongedeerd.
'n Ope brief het op sosiale media verskyn waarin 'n ooggetuie sy misnoeë uitspreek oor die optrede van die polisie en verkeersbeamptes wat op die ongelukstoneel was.
"Twee polisiemanne daag op en neem besonderhede. Hulle neem nie mates nie, maar tree net die afstand (3 meter) af tussen sy bakkie en die vrou en verlaat die toneel nadat verkeersbeamptes ook daar aangekom het".
Hy beweer verder dat die verkeersbeamptes onprofessioneel en absoluut vyandiggesind teenoor die bejaarde bestuurder opgetree het. Daar word veral verwys na die senior vroue-verkeersbeampte.
Dit word die beamptes ten laste gelê dat hulle so opgetree het in die teenwoordigheid van die bestuurder se twee kleinkinders wat glo erg getraumatiseer was en aan skok gely het. Die man beskryf die beamptes se gedrag as "magsbehebtheid".
Hy beweer verder dat die vroulike beampte aangedring het dat hy in die toestel blaas waarmee sy bloedalkoholvlaklesing geneem word. "Die toestel het 'n lesing van 0,05 getoon. 'n alkohol-inhoud in die asem mag nie meer as 0,24 mg per 1000 ml wees nie sovêr my kennis strek", skryf hy.
Volgens die skrywer het die verkeersbeampte geweier dat die bejaarde man met sy voertuig van die toneel af wegry. Hy moes sy vrou en nog iemand kry om hom en sy voertuig te gaan haal. Die skrywer sluit af dat die bejaarde man "se vryheid op beweging arbitrêr ontneem is".
Munisipaliteit reageer
Die munisipaliteit het reageer teen die bewerings en bevestig dat dit munisipale verkeerpersoneel was wat op die toneel was.
Die volgende is deur die munisipaliteit uit gelig:
"Die superintendent het korrek en professioneel opgetree deur 'n die bestuurder van 'n voertuig wat in 'n ongeluk betrokke was en wat positief vir alkohol op sy asem geblaas het, toestemming te weier om verder te bestuur. Daar is 'n wesentlike verskil tussen die aantyging van arrogansie en die suiwer kliniese benadering op 'n ongelukstoneel."
Verder, word verduidelik dat die bestuurder van die voertuig wat in die ongeluk betrokke was, toestemming geweier is om verder te bestuur omdat:
- daar 'n positiewe toets vir alkohol op die asem was,
- daar twee minderjarige kinders in sy toesig was
- daar reeds 'n ongeluk plaasgevind het waarby hy betrokke was.
"Neem in ag dat die persoon wat kommentaar op die alkoholtoets lewer, geensins weet wat die kalibrasie van die dräger is wat deur die beampte gebruik is nie, en dus ongetoetste bewerings maak.
"Die beampte op die toneel kon nie bepaal wie/wat vir die ongeluk verantwoordelik was nie, maar het in belang van verkeersveiligheid opgetree, en volgens prosedure korrek opgetree."
Die publiek word daaraan herinner dat Louis Fourieweg 'n provinsiale pad is met 'n soedgrens van 80 km/h. Bestuurders van voertuie moet veral bedag wees op voetgangers wat onverhoeds op die pad voor 'n voertuig kan beland. Daar word in ooreenstemming met die provinsiale regering wel na opgraderingsvoorstelle vir Louis Fourieweg gekyk.
Lees 'n vorige artikel: 15-jarige leerder in Louis Fourie raakgery
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'