SUID-KAAP NUUS - Die pad tussen Albertinia en die Stilbaai-afdraai het die afgelope naweek nog 'n lewe geëis in 'n botsing waarby vier voertuie betrokke was. Dit is die soveelste grusame ongeluk die afgelope jaar op dié gedeelte van die N2.
Drie voertuie was later dieselfde dag in dié omgewing in 'n botsing betrokke en Maandag is 'n persoon in 'n ongeluk beseer op die N2 tussen Gouritsrivierbrug en Mosselbaai.
Albertinia
Een persoon is Sondag, 22 September omstreeks 12:00 noodlottig beseer in 'n ongeluk waarin vier voertuie betrokke was.
Die ongeluk het sowat 10km buite Albertinia in die rigting van Riversdal plaasgevind. Die bestuurder van die Toyota FJ Cruiser, wat alleen in die voertuig was, is op die toneel dood verklaar.
Die Toyota, wat in die rigting Albertinia onderweg was, het na bewering oor die sperstreep gery. Hy het 'n wit Hyundai, wat in die teenoorgestelde rigting op pad was, getref en die deure aan die bestuurderskant afgeskeur. Die wrakstukke van die tweede voertuig het ten minste 200m ver langs die pad gestrooi gelê. Toe het hy die regtervoorkant van 'n donkergrys Landrover Discovery getref. Dié voertuig se linkervoorwiel het afgespring en 'n wit Renault getref.
'n Man, sy ma en twee kinders in die Discovery, die egpaar in die Hyundai en die twee mense in die Renault het geringe beserings opgedoen, maar is origens na wat verneem word ongedeerd.
Verkeer weerskante van die ongelukstoneel is ure lank opgehou terwyl die oorledene se liggaam uit die wrak verwyder is en deur die departement van gesondheid se forensiese patologie-afdeling van die toneel verwyder is.
'n Man en vrou wat in die Hyundai onderweg was, het kniebeserings opgedoen. Foto: Dawid Kamfer
'n Stop/ry-beheerpunt het die swaar langnaweekverkeer reguleer, maar die pad is met tussenposes weer gesluit terwyl drie insleepvoertuie die vier wrakke verwyder het. Die N2 is teen 15:00 in albei rigtings oopgestel.
Nog 'n ongeluk
'n Bakkie en twee ander voertuie was later Sondag in die omgewing van die afdraai na die Garden Route-wildreservaat in nog 'n ongeluk betrokke.
Geen verdere inligting hieroor kon verkry word nie.
Maandag
Op Maandag, 23 September was een voertuig op die N2 tussen die Gouritsriverbrug en Mosselbaai in 'n ongeluk betrokke. Volgens 'n omstander op die toneel is 'n persoon deur paramedici uit die voertuig gehaal, maar die omvang van die persoon se beserings is nie bekend nie.
Een van die voertuie wat in Sondag se ongeluk tussen Albertinia en die Stilbaai-afdraai betrokke was. Foto: Dawid Kamfer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'