MOSSELBAAI NUUS - Die pas afgelope paar weke se intense Eisteddfod bedrywighede het Saterdagaand, 10 September met 'n baie suksesvolle gala-aand ten einde geloop.
Die Hoërskool Punt se saal was gepak met ouers, familie en vriende wat hulle kinders se talente saam kom vier het.
Desnieteenstaande die stremmende tydlyn om die Eisteddfod te kon aanbied, het die oorweldigende positiewe reaksies van die deelnemers, ouers, onderwysers, skoolhoofde en begeleiers dit alles in plek laat val en 'n rekordgetal inskrywings kon beoordeel word.
Die hoeveelheid prestige-, honneurs- en goue toekennings wat deur van die land se beste kuns-beoordelaars toegeken is, was 'n toonbeeld van die gehalte van die inskrywings.
Die beoordelaars van die vier kuns-kategorieë wat aangebied is, was dit eens dat ons jeug uitstekend lyk en vaar. Van kore wat op wêreldstandaard is, 'n jong solosanger wat alreeds die aandag van UCT se Operaskool getrek het, spreekkore en poësie-voordraers (en skrywers) wat vir groot genot gesorg het, tot briljante tjello, viool, marimba, klavier en fluitspelers.
Daar was inskrywings vir ukulele, saksofoon, xylofoon, kitaarensembles, trompet en selfs vir musikale teater. Vir die eerste keer het 'n jong mimiekkunstenaar, Franco Barnard, sy talent met lof op die proef gestel.
Dansfees
En wie sal die dansfees wat oor twee dae plaasgevind het, kan vergeet? Die saal het gedreun met energie en kreatiwiteit en spanne dansers wat almal stom gelaat het met hulle passie en talent. Die wêreldklas dansbeoordelaar, Joubert Jonker, wat van 'n Europese Wêreldbeker danskompetisie onderskep is om die Eisteddfod in Mosselbaai te beoordeel, was uiters beïndruk met die hoë dansstandaard - of dit nou ballet, tap, hip-hop, jazz of modern was.
Visuele kuns
Die visuele kuns wat deurentyd by Hoërskool Punt uitgestal is, het ook groot byval gevind. Twee inskrywings, Mian Hurter en Bertus Kruger het die seldsame "spesiale beoordelaarsvermelding" ontvang vir hulle kunswerke. Dit is maar net 'n paar van die wonderlikhede wat by die Mosselbaai Eisteddfod vir 2022 plaasgevind het en almal sien uit na die volgende een.
'n Baie groot dankie gaan aan ieder en elke dansskool, musiekskool, dramaskool, juffrou, skoolhoof, ouer en ondersteuner vir hulle positiewe bydraes om die 2022 Eisteddfod te laat gebeur. Die Hoërskool Punt word veral bedank vir hulle fasiliteite ten spyte van die intense eksamenskedules.
Tehane Roux het ’n balletsolo uitgevoer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'