MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai se nooddienste is vanmiddag net na 17:00 uitgeroep, na Groot-Brakriviermond waar 'n agtjarige meisie in die rivier verdrink het.
Volgens 'n familielid het hulle ongeveer 16:00 na haar begin soek tussen die ander swemmers en strandgangers.
Met Nuwejaarsvieringe was die gebied rondom die riviermonding wat weer toegespoel het, stampvol en het mense in die vlak water van die rivier geswem.
Die meisie se liggaam is deur ander swemmers uit die water gebring waarna lewensredders van die nabygeleë Suiderkruis-strand en later die Mosselbaai se nooddienste vir langer as 'n uur kardiopulmonêre resussitasie toegepas het. Sy is egter op die toneel dood verklaar.
Die meisie se ouers, kleiner sussie en ander familielede van Wolwedans, was almal op die strand tydens die gebeure.
Die meisie, wat op 30 April nege sou word, se ouma, Maria Scheepers, was ontroosbaar en is deur vriende en familie bygestaan. "Die Here moet my ook eerder nou wegneem. Ek het haar van geboorte af groot gemaak en sy het elke aand agter my rug geslaap."
Kaptein Francois Henzen, van die Groot Brak-polisie het weer gevra dat mense te alle tye moet weet waar hulle kinders is as hulle op die strand, in die rivier of naby ander waterbronne is. "Die rivier is bedrieglik, want die bodem is ongelyk en het soms diep gate. Moet nooit dat kinders alleen gaan swem nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'