MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Klein-Brakrivier het vrae rondom die proses wat gevolg is vir die goedkeuring van 'n sandmyn op 'n stuk grond noord van die N2, Klipheuwel 143/33. Die grond is 'n ent van die woongebied, Fraaiuitsig geleë.
Die Klipheuwel Trust beoog om die vier hektaar grond, wat tans bo die 1-in-50 jaar vloedlyn is met 1,5m te laat sak.
Die grond word huidiglik as besproeiingsgrond benut en sal na besproeiingsgrond teruggekeer word. Die strook is vanaf die middel van die spilpunt na die N2-hoofweg geleë.
Publieke deelname
Volgens die Klipheuwel Trust sal die effek van die sandmyn op die publiek minimaal wees. 'n Publieke deelnameproses is gevolg, maar inwoners van Klein-Brakrivier sê hulle het nou eers van die verwikkelinge bewus geword.
Grond gemyn
Eienaar en boer van die grond, John Robertson sê hulle het vir 10 jaar minstens 100 hektaar sand reg langsaan die beoogde grond gemyn.
"Ons het dit gedoen om enige aansoek deur 'n derde party vooruit te loop. Die gevolg was dat ons beide die waterretensievermoë van die land kon verbeter en ook die vermoë van die grond om koolstof te behou verhoog.
"Laasgenoemde word al hoe belangriker namate ons na koolstofneutrale produksiestelsels beweeg. Ons het die voorheen ontginde gedeeltes teruggegee na volle landbouproduksie onder outomatiese besproeiingstelsels. Daar was nooit enige probleme met stof of geraas nie. Dit is 'n baie stil proses. Vandag wil ek enige persoon uitdaag om te identifiseer waar ons gemyn het."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'