MOSSELBAAI NUUS - Die leier van Icosa en raadslid in die plaaslike raad, Dawid Kamfer, sê hy is boos.
"Ek is baie teleurgesteld oor die manier waarop die kinders wat van Powertown hervestig is na Sonskynvallei en nou probleme ondervind met vervoer na skole.
"Ons het die gemeenskap deurentyd gemaan om versigtig te wees en aan hul kinders se toekoms te dink voor hulle hervestig, maar dit was tevergeefs."
Raadslid Kamfer en uitvoerende bestuurslede van Icosa het Maandagaand met inwoners van Sonskynvallei vergader oor die inwoners se besorgdheid oor toelatingskwessies en skoolvervoer.
"Icosa het reeds 'n regsverteenwoordiger opdrag gegee om die howe te nader vir 'n bevel dat die onderwysdepartement steeds vervoer aan leerders na Groot-Brakrivier moet verskaf.
"As gemeenskapsleier het ek aan die gemeenskap die probleme verduidelik met Hartenbos Laerskool wat net 'n gegewe aantal kinders kan huisves.
"Met die talle probleme wat Sonskynvallei se kinders in die gesig staar, kon 'n mens die probleem sien kom," berig raadslid Kamfer.
Hy het sy kommer uitgespreek dat die probleme met skoolvervoer en geskikte plasings daartoe kan lei dat kinders die skool verlaat en op die strate gaan beland.
"Ek wil my skok uitspreek teenoor die DA en burgemeester Harry Levendal wat die betrokke mense heuning om die mond gesmeer het deur vervoer te gereël het, net om die mense onder valse voorwendsels uit Powertown weg te kry.
"Ek meen raadsheer Levendal het geweet daar gaan nie in 2018 weer vervoer wees vir die kinders wat na Groot Brak vervoer moet word nie.
"Die onderwysdepartement se regulasies is duidelik, kinders moet na die naaste skool gaan en vervoer kan nie beskikbaar gestel word aan leerders wat binne 'n radius van 5km vanaf hul skool woon nie."
Icosa beoog volgens raadslid Kamfer om dringende vergaderings met al die rolspelers te beroep.
"Die moontlikheid is nie uitgesluit om boikot te reël na die skool nie.
"Ons prokureur is opdrag gegee om hof toe te gaan om die kinders teruggeplaas te kry by Groot-Brakrivier se skole waar hulle verlede jaar was.
"Of, om die ouers terug te plaas na Powertown toe. Icosa kan nie toekyk hoe met die toekoms van ons jeug gespeel word nie," aldus raadslid Kamfer.
Lees 'n verwante artikel: Powertowners word soos melatses behandel
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'