MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai kry stadig maar seker wintersweer namate die laaste herfsdae wegkwyn.
Alhoewel ons dalk nie sneeu soos ander dele van die wêreld kry nie, is winters in die Wes-Kaap maar koud en nat.
Baie koue, nat en winderige toestande sal na verwagting van môre, 20 Mei, tot Woensdag die Wes- en Noord-Kaap beïnvloed. Veral kleinveeboere word aangeraai om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul diere te beskerm.
Hier is dan aan die publiek ook ’n paar wenke om gedurende hierdie koue tyd van die jaar warm te bly.
Lae onder jou klere
Om deur ’n ysige dag in Mosselbaai te kom, sal dit help om ’n ekstra broek of sykouse onder ’n langbroek te dra. Moenie sokkies en ’n ekstra T-hemp of twee onder jou trui vergeet nie.
Belê in mussies, serpe en handskoene
Selfs jou kopvel kan ook die koue voel. Hou jou hande, ore en nek met hierdie kledingstukke warm.
Skakel jou elektriese kombers aan 30 minute voor jy in die bed klim
’n Elektriese kombers is perfek om jou bed te verhit en knus in te sluimer. Wees versigtig dat jy dit nie die hele nag en bedags aanlos nie, want dit is immers ’n brandgevaar.
Gebruik warmwaterbottels
As jy nie ’n elektriese kombers het nie, werk ’n warmwaterbottel net so goed. Vul waterbottels met kookwater - die hitte behoort jou ’n paar uur te hou. Alternatiewelik kan jy van boontjiesakkies wat in die mikrogolf verhit kan word, gebruik maak.
Drink sop, tee en koffie
Sop is altyd die perfekte wintersmaaltyd, en dit verhit jou liggaam vinniger as ander kosse. Drink ’n warme koppie tee of koffie om jou liggam deur die dag warm te hou.
Gebruik kerse
Kerse kan ’n goeie bron van hitte wees, veral as jy ’n paar daarvan saam gebruik. Steek ’n paar kerse op ’n tafel op - hulle sal uiteindelik die omtrek begin warm maak. Moet die kerse egter nie sonder toesig laat nie.
Bly op hoogte van jou woonbuurt se beurtkragskedule
Alhoewel beurtkrag al ’n geruime tyd van Mosselbaai afwesig is, is die terugkeer daarvan altyd moontlik. Maak seker dat jy die skedules noukeurig nagaan en betyds jou verwarmers en elektriese komberse aangeskakel het om ’n bietjie hitte te kry voor die krag afgaan, en dat jou maaltye ook vroegtydig gaargemaak is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’