Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ry mens rond in die Mosselbaai-area en veral in Groot-Brakrivier, sien mens gereeld die "van" Searle, hetsy op 'n gebou of straatnaam.
Daar is Searle's Village, Searle familie begraafplaas, Searle Gedenkkerk in Langstraat.
Almal in Groot-Brakrivier en Searle's Manor in Blandstraat, Mosselbaai. Om maar net 'n paar te noem.
Voorsate en nasate van die Searle's-familie het baie invloed gehad in die ontwikkeling van die omgewing. Een van hulle is Charles Searle junior, gebore 3 Julie 1849. Sy pa Charles en ma Pamela Searle, het in 1859 van Engeland op Algoabaai voet aan wal gesit.
Charles Junior was 10 jaar oud toe die Searle's hulle hier kom vestig het en ook die oudste van sy drie ander broers. As oudste kind was hy altyd op die voorgrond saam met sy pa en het 'n groot aandeel gehad in sy pa se doen en late en die ontwikkeling van Groot-Brakrivier in daardie tyd.
Buiten verskeie projekte was Charles junior se grootste bydraes tot die ontwikkeling van Groot-Brakrivier, die aankoop van grond weerskante van die rivier. Charles Searle senior was die stigter van Groot-Brakrivier, maar Charles junior, 'n waardige opvolger, was die argitek wat op sterk fondament gebou het, en wat later, met twee van sy broers, 'n gemeenskap en 'n klein nywerheidsryk in die Groot-Brakrivier vallei geskep het.
Fairholm
Die historiese huis Fairholm by nommer 4 Langstraat, op Groot-Brakrivier, is gebou in 1916 en as trougeskenk deur Charles junior aan sy dogter Emily gegee. Emily was met Claude Dugmore getroud. Na haar dood op die ouderdom van 39 jaar in 1928, het die eiendom verskeie van hande verwissel.
Die laaste paar jaar het die huis egter verval en die nuwe eienaar het besluit om die historiese gebou te restoureer. Die huis is ongelooflik goed gerestoureer oor die afgelope 10 maande.
Erlande Labuchagne, wat die restourasie behartig het namens die eienaar, het met Mossel Bay Advertiser gesels oor die huis en saam met haar was die eiendomsagent, Nico Venter ook daar om te spog oor die merkwaardige restoureerwerk.
Die erf beslaan 2800m² waarvan die huis 402m² is.
Die huis bestaan uit drie slaapkamers met 'n studeerkamer en twee badkamers op die boonste verdieping. Onder is 'n kombuis, opwaskamer en 'n bedienings kombuis, eetkamer, sitkamer, gaste toilet en ingangsportaal. Dan is daar ook 'n dubbel motorhuis.
Buite is die verwaarloosde tuin ook 'n pragtige nuwe baadjie gegee. Te danke aan mense wat omgee, gaan die historiese geboue nog vir jare vir die nageslag behoue bly.
Lees gerus meer oor die geskiedenis van Groot-Brakrivier en die eiendomme in besit van die Searle-familie. The Story of Great Brak River deur Margaret Franklin.
VIDEO - Historiese huis in Groot-Brakrivier gerestoureer:
Die historiese huis "Fairholm" in Langstraat, Groot-Brakrivier, is pragtig gerestoureer en sal vir lank deel vorm van die Searle-familie se geskiedenis in ons omgewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’