Update
MOSSELBAAI NUUS - ’n Inwoner van Mosselbaai wat Maandag, 18 Mei, in die see gespring het nadat ’n 79-jarige man sekondes tevore van die rotse by Die Punt in die water geval het, sê hy het nie daaroor nagedink nie en het net geswem.
Die 38-jarige Chris Pietie Barnard word op sosiale media as ’n held bestempel nadat hy agter die bejaarde man aangeswem het.
Volgens Barnard was die man toe reeds bykans 40 m die see in, vermoedelik deur ’n stroom getrek.
Barnard het 'n dag na die voorval met Mossel Bay Advertiser gesels en gesê hy het saam met twee ander mans aan die regterkant van die Poort naby die grotte gehengel.
“Ons het die oom op die rotse gesien. Ek het hom dopgehou om te kyk of ’n brander hom slaan, want hy was nogal naby. Hy het skielik net vooroor in die water geval.”
Barnard sê hy het soontoe gehardloop en gesien die man is reeds etlike meters verder in die water. “Dit was seker die adrenalien wat gepomp het, maar ek het net gespring en geswem.”
Hy sê toe hy by die man kom, was dié nie meer by sy bewussyn nie. Barnard het met hom rotse toe geswem en kardiopulmonêre resussitasie toegepas.
Nooddienswerkers by Die Punt.
Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut is volgens woordvoerder Craig Lambinon ongeveer 16:55 geaktiveer, en die nooddienspersoneel het kort daarna by hulle op die toneel aangesluit en verdere behandeling toegepas.
Die man is egter op die toneel dood verklaar.
’n Familielid van die oorledene het aan die Advertiser gesê sy is nie gereed om met die media te praat nie.
Barnard sê die hele voorval is vir hom baie hartseer, en hy voel jammer vir die man se familie.
Naas ’n seer knie en ’n stywe lyf het Barnard nie enige beserings opgedoen nie.
Die Mosselbaai-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.
Vorige artikel:
Man falls from Point rocks into the ocean, dies
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’