MOSSELBAAI NUUS - Solidariteit Helpende Hand se Mosselbaai-tak het tydens 'n prysuitdeling by die Wes-Kaap streeksvergadering wat op Saterdag, 15 Oktober in Gordonsbaai gehou is, twee wenners en twee naaswenners opgelewer.
Marietjie Engelbrecht is aangewys as die beste tak-ondervoorsitter van die jaar en Joy Cook is aangewys as die Vrywilliger van die Jaar.
Die Mosselbaai-tak en die voorsitster, Minette van Zyl, is aangewys as die naaswenners in hul onderskeie kategorieë.
Die Mosselbaai-tak het gedurende 2022 sterk gegroei en heelwat suksevolle en volhoubare projekte in die gemeenskap aangepak. Die grootste projek waarmee daar goeie vordering gemaak word, is om kamers vir 84 bejaardes in die ACVV Ons Huis en Onse Rus ouetehuise op te knap.
Die doel van die projek is om die kamers vir die bejaardes so aangenaam as moontlik te maak deur die kamers se mure te verf en met nuwe beddegoed en linne te versier.
Helpende Hand het reeds donateurs vir die opknapping van 25 kamers ontvang en doen n beroep op die gemeenskap en besighede om na vore te kom en die opknapping van een of meer kamers te borg.
Die koste per kamer is R2 800. Kontak Minette van Zyl (082 443 3601) vir verdere inligting.
Minette van Zyl, voorsitter van die Solidariteit Helpende Hand se Mosselbaai-tak, is as naaswenner aangewys vir die tak-kategorie en in posisie as voorsitter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'