Gallery
MOSSELBAAI NUUS - “Just try me once, and I might let you go,
“But try me twice, and I’ll own your soul.”
Só sê Metamfetamien, en sy woorde pas alte goed in sy broer, Heroïen, se mond.
Brescia Bianco-Badenhorst (44) het dié frase uit ’n bekende gedig gebruik om die houvas van heroïen op ’n verslaafde te verduidelik.
Sy is iemand wat maar te goed weet deur watter hel so ’n persoon gaan, maar is self darem vandag deel van slegs 2% van verslaafdes wat dit oorleef het en suksesvol gerehabiliteer word.
Bianco-Badenhorst het Saterdag 14 Maart meer as 240 vroue tjoepstil gelaat tydens die Suid-Afrikaanse Sakevroueraad in Mosselbaai se ‘Mad Hatters’-teeparty by die Diaz Hotel.
Hierdie vrou, wat nie soos ’n tipiese verslaafde lyk nie en wat praat van die mens se onbreekbare gees en van veerkragtigheid en hoop getuig, het die gehoor geboei en telkens met die feite geskok.
Die gasspreker, die gerehabiliteerde heroïenverslaafde Brescia Bianco-Badenhorst, en Esmè Alberts van die Suid-Afrikaanse Sakevroueraad van Mosselbaai. Foto: Denise Lloyd
Die lewe het Bianco-Badenhorst van jongs af met allerlei uitdagings gekonfronteer. Sy het in ’n pastorie grootgeword en is as laerskoolkind geboelie, maar het in die hoërskool haar stem in kultuur en drama gevind. Die verhoog het haar “planeet van ontsnapping” geword.
Aanvaarding was vir haar belangrik, en die streng opvoeding wat sy gehad het, het dit moeilik gemaak om in te pas.
Op 16 het sy besluit sy sal vir die gemeente wys hoe ’n pastoriekind kan optree. Sy het die pad heeltemal byster geraak, en moes boonop vroeg in haar lewe met selfdood kennis maak - haar broer het etlike pogings aangewend, en op 18 daarin geslaag om sy eie lewe te neem.
Die helder liggies van die vermaaklikheidswêreld het haar ingesluk en sy het van rook na hubbly bubbly en dagga gevorder, en kort ná haar 21ste verjaarsdag is sy aan heroïen voorgestel. Sy’t begin planne maak om die volgende fix in die hande te kry, en sy’t van enigeen gesteel en gelieg om haar leefstyl aan die gang te hou.
“Ek het nooit enige naalde gebruik nie, want ek wou nie soos ’n junkie lyk nie,” het sy vertel. Sy het die heroïen gerook - iets wat hulle “chasing the dragon” noem, het sy gesê.
In Augustus 2003 het haar ouers haar by die Elim-kliniek, ’n professionele behandelingsentrum vir verslawing, ingeboek, en het sy die lang pad na herstel begin. “Dit was aaklig en ek wou net doodgaan, maar dit was my nie beskore nie. Vandag werk ek as verslawingsberader en gesertifiseerde gesondheidafrigter by dieselfde Elim-sentrum,” het sy vertel.
Elke jaar op 10 September vier sy haar ongelooflike pad na herstel. “Dit is nou al 22 jaar,” het sy gesê.
“Ek praat oor dit waaroor mense nie praat nie; ek is die stem van die stemloses. My storie is nog nie klaar nie, en julle elkeen het die pen in die hand wat jou eie storie skryf.
Onthou, jy het altyd ’n keuse. Jy besluit of jy die kommapunt gaan gebruik om aan te dui jou storie gaan nog aan, of jy sit die punt neer en dan is jou storie klaar,” het sy bygevoeg.
- Denise Lloyd
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’