MOSSELBAAI NUUS - Na aanleiding van 'n ongeluk op Vrydag, 1 April in Marshstraat, word fietsryers en motoriste weer eens bewus gemaak van die gevare op die pad en dat 'n fiets geen kans staan teen 'n voertuig of vragmotor indien die twee sou bots nie.
Die fietsryer is Vrydag beseer toe hy teen 'n voertuig se oop deur vasgery het. Met die pad wat baie nou is, het die bestuurder van 'n geparkeerde voertuig sy deur oopgemaak en die fietsryers het teen die deur vasgery.
Nooddienspersoneel was op die toneel en die man is na 'n plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.
Motoriste wat al in Marshstraat gery of parkeer het, kan beaam dat die hoofstraat van Mosselbaai en vele ander baie nou is. Klim jy uit of in jou voertuig is daar altyd die gevaar van aankomende voertuie en veral groter voertuie.
Dit gee die bestuurder van 'n voertuig nie veel in- en uitklimspasie nie, veral as voertuie weerskante van die tweerigtingpad beweeg.
Dit bly egter beide die bestuurder van 'n voertuig, asook fiets- of motorfietsryers se verantwoordlikheid om seker te maak van die veiligheid van die situasie. Geparkeerde motors se bestuurders aan die straatkant moet hul truspieël gebruik voor die motordeur oopgemaak word.
Op hul beurt moet fietsryers waaksaam wees en spoed verminder indien hulle tussen voertuie aan die linkerkant van die pad beweeg.
Fietsongelukke op openbare paaie kom gereeld voor en noodlottige ongelukke het al in die Mosselbaai-omgewing plaasgevind. In die ou dae het meeste van die fietse 'n klokkie gehad wat ander en veral voetgangers kon waarsku.
Vandag se fietse is van die beste tegnologie toegerus. In sommige gevalle dra fietsryers nie nodige beskermde drag vir sigbaarheid nie, veral voor sonop of na donker.
Motoriste wend hulle selfs dikwels na veral sosiale media om te kla oor fietsryers se gedrag op die pad. Van hierdie klagtes is dat hulle kuier-kuier langs mekaar ry en nie konsentreer op die verkeer nie. Sommige fietsryers ry met oorfone en hoor geen aankomende verkeer. Dan is daar ook klagtes dat fietsryers by robotte oorry om nie die ritme van hulle oefenprogram te verbreek.
Fietsryers kla ook dat sommige bestuurders van voertuie naelskraap langs hulle verby jaag, toeters druk, skel en handtekens wys. Van die fietsryers se grootste klagtes is dat motoriste op hul selfone besig is en na links in die fietsryvlak beweeg. Motoriste wat bestuur onder die invloed van alkohol bly egter een van die grootste oorsake van fietsongelukke.
Dit bly motoriste en fietsryers se verantwoordlikheid om veilig te bestuur. Indien so 'n ongeluk noodlottig sou wees, is daar altyd die risiko dat 'n motoris aangekla gaan word vir strafbare manslag en die res van sy lewe met 'n rekord gaan sit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'