KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - 'n Vrou wat die afgelope naweek op die R102 in 'n fietsryongeluk betrokke was, is oorlede.
Die vrou, volgens die polisie in haar 50's, het Saterdag, 19 Oktober, in die rigting van Klein Brak naby Reebok Village gery toe 'n verbygaande motor se kantspieëltjie haar na bewering getref het.
Volgens die polisie het sy beheer oor haar fiets verloor en geval. Die presiese omstandighede van die ongeluk is nog onbekend.
Sy is in 'n ernstige toestand na die hospitaal vervoer en is volgens die polisie vandeesweek oorlede.
Die vrou se naam is bekend aan die Mossel Bay Advertiser, maar kan nog nie bekendgemaak word nie, omdat dit onduidelik is of al haar familielede al in kennis gestel is van haar afsterwe.
Daar was aanvanklik 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuur by die polisie geopen, maar na haar afsterwe sal dit verander word na 'n klag van strafbare manslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’