MOSSELBAAI NUUS - 'n Bekende musikant en oud-Mosselbaaier, kapt. Frans Brits (66), is op Woensdag 19 Augustus oorlede en sal môre, Saterdag 29 Augustus, in Mosselbaai begrawe word.
Brits het sy musiekloopbaan op negejarige ouderdom begin deur as 'n trekklavier- en orrelspeler in sy pa se orkes, sowel as in verskeie ander orkeste regoor die land op te tree.
In 1978 het hy by die SAPD se dansorkes aangesluit en vir 20 jaar sy talent as sanger en speler van die klawerbord en konsertina uitgeleef, terwyl hy ook skouers geskuur het met ander bekende musikante, insluitend Blackie Swart, Dozi, Nico Carstens en Clive Bruce.
Die SAPD se dansorkes waarmee Frans Brits betrokke was. Foto: Verskaf
Brits het in 1997 met die rang van kaptein afgetree. Hy sou later saam met sy vrou, Sandra, wat ook 'n musikant is, begin optree.
Volgens sy dogter, Susan, was haar pa baie bekend vir sy musiek.
Hy het ook as gevolg van sy vrywillige werk by die Mosselbaai ACVV en ander geleenthede in 'n paar van Mossel Bay Advertiser se vorige uitgawes verskyn.
Die familie het 'n uitnodiging aan ander jare lange inwoners van Mosselbaai gerig wat Brits se diens Saterdagoggend wil bywoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’