MOSSELBAAI NUUS - Die Eden-sportraad se afrigterskommissie het hul eerste afrigterskonferensie as deel van die 2018 Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees aangebied.
Meer as 70 afrigters van 27 sportfederasies het die geleentheid gehad om insette te lewer en die rigting te bepaal waarheen sportafrigting in Eden op pad is. Verskeie topafrigters het aanbiedings gedoen oor aktuele sake in afrigting.
Desmond Speelman, voorsitter van die sportraad, het in sy openingsrede na heelwat van die uitdagings in afrigting vandag verwys. Hy het dit ook duidelik gestel dat die naam Eden-sportraad sal bly – soos deur die lede van die Eden-sportraad besluit is. "Geweldig baie koste, tyd en energie het daarin gegaan om van die ou SWD na die Eden naam oor te skakel – en die proses is nog nie eens voltooi nie," het Speelman gesê.
Trevor Davis, nasionale afrigter van Rolbal SA, het die nasionale afrigtingsraamwerk aan die konferensie voorgehou. Dit het duidelik na vore gekom dat die raamwerk nog ver van implementering is en dat daar veral weer na die vrywilliger-afrigter in die raamwerk gekyk moet word. Ook die geweldige hoë koste wat dit gaan kos om te registreer en te akkrediteer, gaan veral hierdie korps negatief beïnvloed.
Gary Hampson (Krieket SWD – afrigter) het 'n puik lesing oor uitnemendheid aangebied. Dit is opgevolg met 'n aanbieding deur André Elexander oor die Eden-sportakademie en wat dit bied. Elma Davis (Protea-rolsbalspeler) en Claudio Miller SA lewensredderafrigter) het aanbiedings gedoen oor die afrigter en atleet se verhouding tot uitnemendheid.
Abrie de Swardt (Eden-sportraad afrigterskommissie-voorsitter) het op sy beurt die effektiewe distrik-afrigtingsadministrasie hanteer waarna adv Lwandiso Kwababana (WK Afrigterskommissie-voorsitter) die “Wes-Kaap Afrigtingskommissiestruktuur” behandel het. Hy was besonders aangenaam verras met wat die afrigtingstruktuur in Eden alreeds tot stand gebring het en ook genoem dat die Wes-Kaap struktuur heelwat uit hierdie konferensie kan neem en daarop voort te bou.
Morné Pietersen (EdenFM bestuurder) het met sy kundigheid as programdirekteur die konferensie puik bestuur.
Van die belangrikste punte wat uit hierdie baanbreker afrigterskonferensie voort gespruit het, is:
- Die rol van die vrywiller-afrigter word geweldig onderskat;
- Die opgradering van ‘n databasis vir afrigters (Eden se verouderde databasis van meer as 1 400 afrigters moet aangepas word as ‘n prioriteit). Dit geld ook vir elke sportfederasie in Eden;
- Die nasionale langtermyn ontwikkelingsproses vir afrigters het ernstige gebreke en is meer as twee jaar agter skedule;
- Vroueafrigters se ontwikkeling moet ernstige aandag geniet en prioriteit wees;
- Enige afrigter wat met kinders o/16 werk moet 'n polisieklaring besit om te mag afrig;
- Oplossings en fondse moet gevind word om afrigting en afrigters volhoubaar te ontwikkel en te akkrediteer;
- So ‘n konferensie behoort ‘n jaarlikse instelling te word.
Die volgende groot projek van die Eden-sportraad afrigterskommissie is die jaarlikse “Coaches High Performance Workshop” wat by die Eden Sportakademie op Oudtshoorn aangebied word op Saterdag, 20 Oktober.
Vir navrae skakel vir Abrie de Swardt by 072 348 1961.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'