MOSSELBAAI | OUDTSHOORN NUUS - pa kap 'n bordjie in
op die pavement
voor die huis
for sale
antie rosie van oorkant
bel ma by die werk
jy moet kom kyk, piet verkoop jou huis
Met hierdie en ander gedigte het Hannes Visser, digter en redakteur van die Oudtshoorn Courant, Mosselbaaise woordliefhebbers Maandagaand, 26 Februarie by die Santos Treinrestaurant betower en geïnspireer.
Hy het ook op sy kenmerkende Klein-Karoo vertelstyl gesels oor sy persoonlike reis in die digkuns tot by die punt waar sewe van sy gedigte in Tafelberg se digbundel, Nuwe Stemme 6, opgeneem is.
Hierdie digbundel is 'n projek van Tafelberg Uitgewers wat ongeveer elke derde jaar geloods word om digters wat nog nie voorheen gepubliseer het nie, bekend te stel.
Hulle ontvang inskrywings van ongeveer 140 digters waarvan 21 gekies word. Nuwe Stemme 6 is verlede jaar by die Breytenbach-sentrum in Wellington tydens die Tuin van Digters bekendgestel. Die samestellers is Bibi Slippers en Charl-Pierre Naude.
Hannes was ook glad nie snoep met sy wysheid en insig nie.
Almal het antwoorde op moeilike vrae ontvang, soos: Hoe begin jy 'n gedig skryf? En hoe verfyn jy 'n gedig? Hoe omskep jy jou emosies en drome en herinneringe om in 'n gedig? Hoe verwerk jy kritiek? Hoe kom jy gepubliseer?
Amal het boonop gewonder of daar dalk 'n Elizabeth Eybers of 'n Daniël Hugo in Mosselbaai ontdek gaan word.
Baie nuwe woordvriende is gemaak tydens Mosselbaai se eie "woordfees".
Vir navrae oor die Mosselbaai Skrywers- en Digtersvereniging, kontak Jopie Coetzee - 082 336 8118.