Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Sedert die eerste dae van die jaar het ’n figuur se kop en skouers teen ’n 12 m x 5 m-muur op die hoek van Marsh- en Wasungstraat in Mosselbaai begin vorm aanneem.
Op 10 Februarie is hy in sy finale volkleurvorm vergestalt.
Twee mans se harde werk en handewerk het tot hierdie indrukwekkende gesig bygedra: kunstenaars en entrepreneurs Johan Stadler en Schaun McArthur.
Stadler, ook die eienaar van die Royal Blue Lounge Café/Stadl Art-kunsgalery by hierdie adres, sê die eienaar van die gebou het uiteindelik ná ses jaar ingestem dat dié muur geverf kan word.
Hierdie muurman is nie die eerste muurskildery daar nie, maar beslis die grootste tot op hede! McArthur is verantwoordelik vir van die ander muurkuns op die gebou, maar hierdie is die eerste waarby Stadler van begin tot einde self betrokke is.
VIDEO: Stadler skets die muurskildery
Video: Verskaf
“Dis my heel eerste muurskets wat ek in my lewe gedoen het. En dis ook die eerste keer in my lewe dat ek met kleur werk,” sê hy.
Indien jy met Stadler se ander werke bekend is, sal jy weet daar pronk swart-en-wit skilderye teen die galerymuur - en natuurlik sy kenmerkende stoomtegnologieligte (ofte wel, steampunk lights).
Die muurskets was ’n uitputtende maar belonende ervaring vir hom. “Ek meen, jy klim in ’n dag maklik tot ’n 100 keer op en af. Ek moet sê, jy voel trots op jouself as jy vir die eerste keer so iets gedoen het en al die persepsies en kleure het 100% bymekaar uitgekom,” sê Stadler.
VIDEO: Só lyk die muurskildery soos ’n mens in Wasungstraat, Mosselbaai afstap
Video: Linzetta Calitz
Die tydlyn vir muurman lyk só:
• 9 Januarie - Stadler begin skets
• 12 Januarie - McArthur begin skets inkleur
• 30 Januarie - McArthur finaliseer sowat 70% van die kleurwerk
• 10 Februarie - Stadler voltooi die laaste 30% van die kleur en die afronding.
Johan Stadler voor die muurskildery op die hoek van Marsh- en Wasungstraat. Foto: Linzetta Calitz
Maar uit al die dinge wat hy vir hierdie 12 m x 5 m-spasie kon kies, hoekom hierdie man?
“In die afgelope 20 jaar het die filmbedryf maar baie teen mans gekom en hulle ek wil amper sê as swak en... jy weet, ruggraatloos uitgebeeld. Ek het die skets basies maar gekies tot eer van mans om te sê hulle is sterk, hulle is aantreklik, en hulle is ’n belangrike gedeelte van die wêreld se fondasie,” sê Stadler.
Hy sê sy ervaring is maar dat vroue sê hulle wens mans kan meer opstaan en verantwoordelik optree, “en goeie leiers op ’n sterk en liefdevolle manier vir hulle ander helftes en families wees.”
Oor waar die balans tussen mans en vroue en hoe hulle uitgebeeld word lê, sê hy: “Ek weet nie eintlik wat om vir jou daar te sê nie. Ek dink net as daar van mans én vrouens ’n meer positiewe prent geskep word (onthou, die media het ’n groot impak op hoe ons baie keer dink en redeneer, want dis informasie wat na ons toe deurgegee word), sal al twee beter en beter en nóg beter doen, en verstaan dat hulle al twee met hulle eie vermoëns baie spesiaal is.”
Noudat hy weet muurkuns vorm ook deel van sy repertoire, mag hy dalk meer in die toekoms sy hand daaraan waag, maar hy lag en sê hy glo nie daar sal dié jaar nóg een wees nie.
Kunstenaar wees is immers eintlik sy stokperdjie. Stadler is ’n loodgieter wanneer hy nie sy kreatiewe sy uitleef nie. Hy sê hy is ’n kombinasie van die dinge wat hy aanpak - ’n entrepreneur. Vir jonger mense om deesdae finansieel vooruit te kom, “moet ’n mens maar in gemengde boerdery wees,” meen hy.
En vir jonger mense benadruk hy die feit dat dit nie net oor slim werk gaan nie; vir sukses moet jy ook hárd werk.
Stadler sê in sy grootwordjare het hulle dit maar nie breed gehad nie, en daarom gee hy nie om om vandag alles aan sy sukses, hetsy kuns, sy loodgietery of die kafee, te wy nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’