MOSSELBAAI NUUS - Diaz Primêre Skool se leuse is ‘Word ’n baanbreker’, en wie dan beter om onder hierdie leuse te lei as ’n baanbreker in eie reg?
Genevieve Muller (46), Diaz se hoof sedert April 2020, sê daar is ’n hele paar oomblikke in haar lewe waar sy die weg gebaan het.
As gr. 8-leerder aan Table View High in die Kaap in die 90’s was sy die eerste persoon van kleur wat by dié skool ingeskryf is.
Ook by die destydse Hoërskool Grens in Oos-Londen was dit die geval vir haar en haar ouer broer, Boccaccio Braaf (nou oorlede). En as jong onderwyser pas uit die klasse van die destydse Onderwyskollege Boland, was sy die eerste persoon van kleur om by Laerskool Robertson aangestel te word.
By Diaz Primêr het sy weereens kom geskiedenis maak, hierdie keer as die eerste vrouehoof sedert die skool se stigting in 1971. “So, oral heen was ek ’n baanbreker,” sê Muller.
G’n ‘inkommer’!
Hoewel sy elders grootgeword het, is sy darem al sowat 16 jaar ’n Mosselbaaier, en sy sê sy kan iets oorkom as iemand na haar as ’n ‘inkommer’ verwys! Haar man, Leon, is oorspronklik van hier, en hulle het in 2010 die besluit geneem om vanaf Worcester hierheen te verhuis.
In Worcester het sy Engels eerste addisionele taal by haar alma mater, Breërivier Sekondêre Skool, gegee.
In Mosselbaai aangekom was sy vir sowat sewe jaar die departementshoof by Ridgeview Primêr, waarna sy in 2017 as adjunkhoof by Erika Primêr aangestel is. Diaz was die volgende stap.
Dramapassie
Sy balanseer hoofwees met klasgee en het ’n brandende passie vir drama. “Ek bied die afgelope ruk wiskunde, Engels eerste addisionele taal en gr. 7- skeppende kunste: drama aan.
“Ek geniet dit vreeslik as ek sien hoe die dramaleerders op die verhoog ontpop. Een van my spesialisvakke is drama, en dit is regtig my passie. Ek is ’n stigterslid van die Living Stage-dramagroep, en wil hierdie jaar weer die groep op dreef bring,” sê Muller.
Sy self was al voorheen by die KKNK, Voorbrandfees en Nasionale Kunstefees in Makhanda op die verhoog, en in 2024 deel van die kykNET Silwerskermfees saam met haar ouers, Peter en Sandra.
“Oor my hele onderwysloopbaan heen het ek by elke skool ’n dramagroep op die been gebring en die leerders (laer- en hoërskool-) ingeskryf om op verskeie platforms soos die Montagu-jeugkunstefees, Kunstekaap se kunstefees vir skole, die Herfspragfees en die Goliath Hessequa-fees deel te neem.”
Trane oor ’n roeping
Van iemand wat waarlik haar roeping in die onderwys gevind het, kan ’n mens byna nie glo die gedagte aan ’n onderwysloopbaan het haar jare gelede in trane gehad nie.
“Ek het eers regs-sekretarieël by die Kaapse Skiereiland-Universiteit in 1997 en 1998 studeer, maar toe ons Worcester toe verhuis, wou die kollege daar my nie vir my een jaar akkrediteer nie, en my broer, ook ’n onderwyser, het my aangemoedig om onderwys te studeer.
“Ek het letterlik voor my ouers en die rektor gehuil en gesê ek wil nie onderwys doen nie, ek soek my akkreditasie vir my regs- sekretariële kursus.
“My broer en my ouers het my oortuig, en my antwoord was: ‘Ek gaan net kyk hoe dit hierdie een jaar gaan, en as ek nie daarvan hou nie, gaan ek iets anders doen.’”
Min het sy geweet sy sou vandag nog in dié beroep wees, én dit boonop geniet!
Inspirasie
Haar grootste inspirasie is haar pa, ook ’n onderwyser. En haar gr. 1-onderwyser, Irene September, van St Augustine’s Primary School in Ravensmead sal haar ook altyd bybly. “Sy het in my rapport geskryf, en ek onthou dit nou nog: ‘Genevieve met haar oulike wipstappie is regtig ’n stroopsoet meisie, sy het die heel beste van al ons maatjies gevaar.’
“My ouers, my man en my kinders [Braggio en Sachin] inspireer my daagliks, en my man en my pa gee altyd goeie raad as ek myself in sekere situasies bevind.”
Muller kan nie juis sê of daar vir haar verskillende voordele is om ’n hoof of ’n onderwyser te wees nie - sy weet net sy geniet albei rolle. “Voor ek ’n hoof was, was ek eerste ’n onderwyser, en voor ek ’n onderwyser was, was en is ek eers ’n mens. Ek is altyd myself. What you see is what you get. Ek dink my persoonlikheid is nie te ‘sleg’ nie.”
Loopbaanherinnerings wat tot dusver uitstaan sluit ’n hele reeks dramaprestasies vir leerders en haarself in. Dan het sy ook tydens die departement van basiese onderwys se nasionale onderwystoekennings in 2025 ’n derde plek vir uitnemendheid in laerskoolleierskap op distriksvlak gekry.
Leierskap
’n Paar aspekte tot suksesvolle leierskap is vir haar noodsaaklik, vertel Muller.
“Die kern van alles bly kwaliteit onderrig, monitering, ondersteuning en ontwikkeling van opvoeders - dis noodsaaklik.
“’n Suksesvolle hoof bou ander leiers. Ons tema vir die jaar is groei, en die groei van personeel lei tot die groei van die skool.
“Administrasie, finansies en stelsels moet ook in plek wees. Ek hou nie van chaos nie, ek hou van struktuur, want chaos ondermyn selfs die beste onderrig.”
Emosionele intelligensie en ’n positiewe skoolkultuur is ook nie te versmaai nie, meen sy. “My gunstelingdeel is wanneer ek opvoeders en kollegas geluk kan wens met hul prestasies en kan motiveer om deel te neem aan werkswinkels, kompetisies en meer. En om vir hulle dánkie te kan sê vir dit wat hulle vir die skool, die gemeenskap en Suid-Afrika beteken.”
Die Here en die woord ‘dankie’ - dít is wat haar al deur baie in haar loopbaan gedra het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’