DANABAAI NUUS - "Ek het, miskien as gevolg van my beroep, nog altyd belanggestel in misdaadfiksie en nie-fiksie."
Só sê Danabaaier, Kobus Breyl (77), in 'n onderhoud oor sy tweede boek, Waar bloed kruip, wat onlangs die lig gesien het.
Dié roman begin tydens die Covid-19 pandemie - verskeie moorde word gepleeg, een daarvan op Mosselbaai.
Breyl het reeds 'n jarelange loopbaan in die regte (ja, stééds). Gevra oor sy doen en late, sê Breyl daar word heelwat van hom op die agterblaaie van sy twee boekies "geskinder".
Spesifiek oor sy regsloopbaan staan daar die volgende: "Hy het goeie mensekennis opgedoen tydens sy loopbaan in die regte, terwyl hy in sy jonger dae die land deurkruis het as aflosbeampte in diens van die departement van justisie, en dan veral ook toe hy later in die kantore van verskeie ministers van justisie gedien het, as prokureur praktiseer het en in die laaste jare as waarnemende landdros en streeklanddros gedien het."
Hy is tans nog besig met 'n uitgerekte verhoor as waarnemende streeklanddros in George.
"Verder verwyl ek my tyd aan skryfwerk. Ek het weer met 'n boekie begin, wat ook misdaadfiksie sal wees, maar dit is nog nie eens in die kruip stadium nie."
Behalwe daarvoor, sê Breyl hy is by die kerk betrokke en stap en lees graag wanneer hy tyd het. Hy en sy vrou, Magda, woon reeds vyf jaar op Danabaai, maar het ná 'n verblyf van dertig jaar in Pretoria, reeds in 2000 na die Suid-Kaap verhuis - eers Reebok, Hartenbos en Seemeeupark, nou Danabaai.
Breyl vertel bietjie meer oor sy boeke, en het ook 'n tikkie advies vir ander aspirant skrywers:
Waar kom die inspirasie vandaan?
Ek het lank reeds 'n vreemde krieweling hier binne-in my gehad om te skryf en het dikwels allerhande verhaaltjies geskryf, maar het nooit gedink dat my "skrywerstalent" so goed is om 'n boek te publiseer nie.
My liewe vrou, kinders, familie en vriende het my aangemoedig en ek het na vele probeerslae daarin geslaag om die eerste boek, Paaie deur die Karoo en ander stories, te publiseer. Dit het my aangemoedig.
So twee jaar gelede, net na die eerste boek die lig gesien het, het die krieweling gedreig om chronies te word en het ek besef dat die enigste medisyne wat daarvoor gaan help, gaan wees om dit uit my gestel op papier uit te stort!
Wat verwag ons van die hoofkarakter?
Daar is eintlik twee hoofkarakters. Die een wat veral in die eerste deel van die boek prominensie geniet, is kaptein Jan Borman, die ondersoekbeampte.
Hy handhaaf goeie Christelike beginsels en tree in sy ondervragings altyd respekvol op teenoor verdagtes en getuies.
Die tweede karakter is 'n predikant wat ook 'n ware gelowige is, maar as gevolg van omstandighede vele aanslae moet trotseer.
Dit is moeilik om verder oor hom uit te wy sonder om die loop van die verhaal uit die mou te laat.
Advies aan aspirant skrywers
Wanneer daardie "krieweling" posvat, gaan sit net en begin skryf. Harde werk en geduld is die wagwoord.
'n Mens wil moed opgee wanneer jou manuskrip nie aanvaar word nie. Moenie, moenie moed verloor nie! Gelukkig het my geliefdes my altyd moed ingepraat. Elkeen het geliefdes wat dit sal doen.
Luister na hulle, drink 'n koppie koffie of ander drankie waarvan jy hou en skryf. Dit is lafenis vir die siel.
Misdaadfiksieliefhebbers sal maar dié een in die hande moet kry om agter die kap van die byl te kom. 'n Boekbekendstelling vir Waar bloed kruip word op 21 November om 18:30 by Droombos (naby Tergniet) aangebied.
Kostes beloop R160 per persoon en sluit kaas en wyn in. Kontak 082 320 7200 vir besprekings - plek moet vooraf bespreek word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’