MOSSELBAAI NUUS - Die lewe met sy kompleksiteite laat mens dikwels voel of jy sou kon baat by ‘n kompas om jou deur hierdie wildernis te kry.
Hannes Visser, voormalige redakteur van die Oudtshoorn Courant, digter, skrywer en uitgewer se jongste boek, Ligloop mag moontlik ‘n rigtingwyser wees.
Ligloop, wat pas die lig gesien het is die uitvloeisel van Visser se vrywillige werk as berader en die interaksie met mense wat hom vir lewensafrigting genader het.
“Ek het my akkreditasie as lewensafrigter reeds ses jaar gelede verwerf, maar as gevolg van my werksomstandighede kon ek dit nie voltyds toepas nie. Noudat ek my eie besigheid het en meer vryheid het om aanbiedinge en praatjies te hou, het ek besef die tyd is reg vir 'n boek.”
Ligloop se teikenmark, is enige persoon van enige ouderdom wat graag verandering in sy of haar lewe wil bring, wat dalk op die punt van besluite staan, wat negatiwiteit ervaar en wat veral tydens Covid-19 verward oor die werklikheid geraak het.
“Die boek gee 'n ander blik op hoe ons inligting verwerk, hoe maklik ons aannames maak en hoe maklik ons kommunikasie met onsself onderskat. In kort handel Ligloop, oor hoe ons ons eie werklikheid skep, dikwels deur aannames,” verduidelik Visser.
Die boek bevat 'n hele aantal voorbeelde en riglyne om mense te help om beter besluite te neem, negatiewe gedrag te verander en om bewus te wees van hoe uiters belangrik ons kommunikasie met onsself en met ander mense is.
As onderwyser en as redakteur het ek besef hoe groot die behoefte is dat mense verantwoordelikheid vir hulle eie omstandighede neem. Ek het reeds as 12 jarige kind besef dat ek op my eie oordeel en optrede aangewese is en vir my eie lewe verantwoordelik is.
Visser is betrokke by Turksvy Publikasies wat hy saam met ‘n oud-kollega bedryf. Sy digbundel, Die jaar toe pa… het in 2019 die lig gesien en hy is tans besig met ‘n roman.
Visser se misdaadroman, Voorblad, is klaar en word tans geredigeer. Dit sal moontlik teen Augustus verskyn. Hy het ook 'n skryfkursus ontwikkel wat deur Turksvy Publikasies bemark word. Tans, werk hy aan 'n tweede roman en 'n tweede digbundel.
Hannes Visser, skrywer, digter en uitgewer.
Bekendstelling
Visser stel Ligloop bekend tydens ‘n geleentheid by die Monroe Teater op Vrydag, 13 Mei om 18:00 vir 18:30. Besprekings kan gedoen word by Joan (082 415 9588). Tydens die geleentheid voer joernalis, Cornelle Carstens, in een van haar komedie-kabaret gedaantes naamlik Dorothy Trump, met Visser ‘n onderhoud oor sy boek.
Die bekendstelling is daarop gemik om te vermaak en te bemagtig.
Die bekendsgtelling is deel van die Monroe Teater se 15de verjaarsdagviering.
Dorothy Trump, 'n "agony aunt" oftewel teemtannie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'