MOSSELBAAI NUUS - 8 Junie 2022 was 'n heuglike dag vir die lede van die M.O.T.H. (Memorable Order of Tins Hats) se Blaize Away Bomgat (shellhole).
Op hierdie dag het hulle vir die eerste keer sedert 2008 'n vergadering kon hou in hulle eie gebou, die ou skrynwerkerswinkel in Montagustraat.
Die gebou is 'n nasionale monument en is opgerig deur die sakeman Wijnand Swart in 1898.
Die gebou is deur Blaize Away gehuur van die munisipaliteit met die samewerking van die Mosselbaai Erfenisvereniging. Weens omstandighede rondom die gebou het die lede egter genoodsaak gevoel om uiteindlik die hartseer besluit te neem om die gebou teen einde 2023 te verlaat.
Die Mosselbaai Vrymesselaarslosie het ingestem om hulle fasiliteite aan Blaize Away beskikbaar te stel, waarvoor die lede baie dankbaar is.
Dit is egter nie 'n "eie plek" waar Blaize Away 'n identiteit kan vestig en hulle militêre gedenkwaardighede kan uitstal nie.
Blaize Away is daarom nou op soek na 'n meer geskikte ruimte vir hul aktiwiteite.
Die M.O.T.H. is gestig in 1927 as 'n Suid-Afrikaanse organisasie vir die samesyn van oud-soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog geveg het. Verskeie klubs (genoem bomgate) is landwyd gevestig, en later ook in ander Afrikalande en selfs oorsee, soos in die Verenigde Koninkryk.
Die ideale van die orde is ware kameraadskap, wedersydse hulp en goeie geheue (laasgenoemde verwys na die gedenking en huldiging van gevalle kamerade).
Lede tydens een van hul sosiale geleenthede.
Later is oud-soldate van ander konflikte soos die Tweede Wêreldoorlog en die grensoorlog ook toegelaat om aan te sluit.
Blaize Away Bomgat onderhou die tradisies en ideale van die orde op Mosselbaai en gee onder andere uitdrukking daaraan deur hulpverlening aan veterane wat moeilike tye beleef.
'n Ander belangrike aktiwiteit van Blaize Away is die aanbied van parades by die senotaaf by Die Punt om gevalle soldate te herdenk. Die inwoners van Mosselbaai het fondse ingesamel vir die bou van die senotaaf in 1928 en die senotaaf sou grootliks in onbruik raak sonder hierdie insette van die M.O.T.H.
Enigiemand wat voorstelle het vir 'n tuiste vir Blaize Away of moontlik 'n onbenutte ruimte het wat hulle kan gebruik kan Blaize Away kontak by 082 802 7475, 082 775 6627 of kiliansg31@gmail.com.
Blaize Away verwelkom ook enige navrae oor M.O.T.H. lidmaatskap van die orde of die bomgat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’