Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om 70 jaar met jou lewens-maat te kan spandeer, is sekerlik 'n seëning van bo, want dit is nie aldag dat 'n huwelik so lank hou nie of dat 'n huwelik gouer eindig met die vroeë afsterwe van 'n lid.
Koos en Joey Loubser (gebore De Jager) albei nou 93, het hierdie voorreg op 7 Maart saam met familie en vriende by 'n restaurant in die Langeberg Mall gevier.
Koos het destyds in 'n bank in die Paarl gewerk en is daarna na Vredendal en toe na Upington verplaas. Joey, wat in Pretoria by die Departement van Arbeid gewerk het, is ook na Upington verplaas.
Hulle het op Upington ontmoet en op 7 Maart 1953, is die twee jongelinge in Upington se Moedergemeente getroud. Die jaar daarna is die jong egpaar na Vredenburg waar hulle vir 40 jaar in Vredenburg in besighede betrokke was. In 1991 tree hulle af en verhuis na Hartenbos.
Met die groot vraag hoe hulle so lank die huwelik aan die gang gehou het, antwoord hulle soos volg: "Slaap altyd in dieselfde bed en moet nooit kwaad gaan slaap nie." Dit was albei se bykans gelyktydige antwoord.
Wat gesondheid aanbetref, kla Koos net oor sy voet na 'n operasie maar as sportman en sportvrou in hul vroeër jare, is hulle op hul ouderdom baie gesond. As gelowige egpaar is dit ook hul plig om elkeen hul lewensmaat te koester en te ondersteun.
Uit die huwelik is twee seuns en een dogter gebore. Een seun is vroeg in 'n ongeluk oorlede. Die dogter is getroud met Lourens van der Linde. Daar is drie kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
VIDEO: 70 Jaar saam met net 'n seëning
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'