MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het aan die hand van sake aanhangig gemaak gedurende die afgelope tyd, die volgende misdaadtendense geïdentifiseer waaroor hulle die publiek wil waarsku.
Kommunikasiebeampte, kapt Wollie Fourie bring die volgende onder die publiek se aandag.
- Selfone
'n Saak word ondersoek waarin onregmatige toegang tot 'n selfoon verkry is. "Die selfoongebruiker het, nadat iemand onregmatige toegang tot sy selfoon verkry het, 'n onverwagte rekening van R1 800 ontvang. Die polisie ondersoek nog hoe dit kon gebeur het, maar maan die publiek om uiters waaksaam en op die uitkyk vir enigiets vreemd in terme van jou selfoonverbruik te wees." - Voertuie geadverteer
Volgens Fourie, is dit 'n toenemende verskynsel dat motors spotgoedkoop op sosiale media geadverteer word en dat goedgelowige lede van die publiek deur hierdie slnters mislei word.
"Ons is bewus van voertuie, nuwe modelle wat teen belaglike lae pryse geadverteer word. Die verkoper gebruik dikwels 'n naam wat baie klink soos 'n bestaande motorhandelaar, bekend aan die publiek. Sodra daar belangstelling van 'n voornemende koper is, eis die verkoper dan 'n deposito. Sodra dit betaal is, verdwyn die persoon en die koper is sy of haar geld kwyt."
Fourie waarsku die publiek om in so 'n geval die nodige navrae te doen, alvorens deposito's betaal word. - Vakansievebrlyf
Met die somervakansie voor hande, is talle voornemende vakansiegangers op soek na verblyf. "Bedrieërs maak dikwels van hierdie geleentheid gebruik om mense deur die ore te werk. Maak seker as jy plek bespreek, dat die adres wel bestaan en ook dat die perseel wel vir verhuring beskikbaar is. Indien moontlik, vra iemand om namens jou te gaan seker maak voor jy enige geld oorbetaal." - Gratis internettoegang
"Daar is verskeie persele in ons bediendingsarea waar gratis internettoegang beskikbaar is. Jeugdiges, veral skoolgaande kinders maak hiervan gebruik en word dan deur kriminele elemente geïdentifiseer as teikens vir rooftogte."
Fourie maan jonges om seker te maak dat hulle nie op sypaadjies of ander sigbare plekke op gratis WiFi-netwerke inskakel nie.
"Op hierdie manier word jongmense gesien en geteiken, met die gevolg dat groot skade asook trauma volg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'