MOSSELBAAI NUUS - Wat presies die rede daarvoor is, kan lei tot 'n goeie debat, maar een ding is seker. Met Vrouedag voor hande, voer die skoner geslag van Mosselbaai die botoon in jeugleierskap Dit is nou as jy na die samestelling van die junior stadsraad oor die afgelope vyf jaar kyk.
Sedert 2016, was daar nog net een keer 'n manlike junior burgemeester, twee keer 'n manlike junior onderburgemeester asook speaker, terwyl die amp van munisipale bestuurder nog elke keer deur 'n meisie beklee is.
Die Mossel Bay Advertiser het by vanjaar se jong vroueleiers gaan kers opsteek.
Volgens Zandri van Greunen, munisipale bestuurder, dink baie dat vroue te emosioneel is om praktiese besluite te neem en leierskapsposisies te vul.
"Dit is waar ons mense verkeerd bewys. Ons vermoë om te voel en onsself in ander se skoene te plaas, is net één van ons sterkpunte."
Amanda Mkize, uitvoerende lid vir jeugsake brei uit.
"Lewe ontspring in vroue, daarom het hulle die kwaliteit van inklusiwiteit en is hulle van nature empaties teenoor vroue én mans. As leiers, kan hulle mans en vroue as gelykes beskou."
Eileen Swanepoel, junior burgemeester meen dat luister- en kommunikasiewaardighede vroue die deurslag in leierskap gee. "Vroue is aanpasbaar en kan 'n gesonde balans tussen hul professionele en persoonlike lewens handhaaf."
Quinnlyn Kannemeyer, uitvoerende lid vir gemeenskapsdienste is van mening dat Vrouedagvieringe jong vroue te veel uitsluit.
"As 'n jong dame en leier in my skool, voel ek dat jong vroue erkenning moet kry omdat ons die leierfigure van môre is. Vrouedagvieringe behoort by ons te begin. Dié wat reeds suksesse behaal het, moet ons wys hoe."
Zandri stem saam. "Dit moet 'n geleentheid wees om jong meisies te vertel van sterk, historiese vrouefigure oor wie hulle nie altyd op skool leer nie."
"Mens moet eers die vroue naaste aan jou vier deur tyd saam met hulle te spandeer. Raak betrokke by 'n plaaslike organisasie wat vroue bemagtig," stel Eileen voor.
Quinlynn sê Vrouedag kan 'n geleentheid wees om 'n brug tussen mans en vroue te bou. "Ons moet die verlede vergeet. As 'n nuwe generasie, moet ons om 'n tafel kan sit en sterk staan in ons morele waardes, sodat ons mekaar as gelykes kan sien. As ons weer waarde aan mekaar kan heg, kan ons geslagsgebaseerde geweld oorkom."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'