MOSSELBAAI NUUS - Met die seisoensverandering moet motoriste groter ag slaan op die padwaardigheid van hul voertuie, waarsku die hoof van provinsiale verkeersdienste in Mosselbaai, mev Reinet Sarikakis.
Sy sê dis opmerklik dat selfs nuwe voertuie se ligte, onder meer remligte, soms faal en raai motoriste aan om vervangende gloeilampies en sekerings byderhand te hou om 'n probleem vinnig te herstel.
"Met die komende skoolvakansie, langnaweke en vakansiedae op hande, word motoriste vriendelik, dog dringend versoek om seker te maak dat hul voertuie padwaardig is.
"By padblokkades sal motoriste gevra word om hul bestuurderslisensie te toon en sal voertuie se padwaardigheid nagegaan word. Toeters en reënveërs, onder meer, sal ook nagegaan word.
"Moenie dat voorkombare probleme tot boetes aanleiding gee nie. Die loopvlak aan die binnekant van die motor se bande moet nagegaan word.
"'n Geldige bestuurslisensie moet vertoon kan word, en gesertifiseerde afskrifte van lisensies deug nie," waarsku mev Sarikakis.
Sy sê ter wille van padveiligheid sal haar personeel deurlopend padblokkades hou en lukraak motoriste voorkeer om padwaardigheid van voertuie na te gaan.
Die oplettendheid van provinsiale verkeerspersoneel het in die verlede juis bygedra om misdadige optrede, soos die vervoer van onwettige middels soos dwelms, te voorkom wanneer voertuie deursoek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'