Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Gesin van Randburg, Gauteng, se vakansie het tragies geëindig toe Barries (47) en Nadia Barnard (38) se oudste seun, die 16-jarige Christopher, op 'n visvang-uitstappie verdrink het.
Die voorval het op Dinsdag, 11 April, by Die Saal by Fransmanshoek naby Vleesbaai gebeur. Dit is die derde verdrinking die afgelope vier maande by en naby die gewilde Vleesbaai.
Die twee jonger seuns, Heinrich (15) en Luan (11), was ook deel van die uitstappie en die gesin, wat reeds sedert 26 Maart met vakansie was, sou die volgende oggend huiswaarts keer.
Volgens inligting het Christopher teen die rotse afgeklim om 'n vis óf sy lyn los te maak toe 'n brander hom van die rotse geslaan en hy in die see beland het. Sy pa het onmiddellik agterna gespring om te help, maar kon sy seun nie vind nie. Barries kon later self ongedeerd uit die water kom.
Stasie 15 van die Nasionale Seereddings-instituut (NSRI) op Mosselbaai is om 10:08 na die toneel ontbied en het hul met die reddingsboot 15 Bravo na die toneel gehaas.
Vier van die NSRI-lewensredders het met hul aankoms dadelik die boot te water gelaat en die gebied begin fynkam.
Die polisie se Seegrens-eenheid en die Wes-Kaap departement van gesondheid se nooddienste is ook na die toneel. Nog twee van die NSRI se reddingsbote is van Mosselbaai se hawe na die toneel ontplooi.
Christopher was egter steeds vermis en is om ongeveer 11:00 naby die wal in 'n sloep gevind. Hy is op die toneel dood verklaar.
Roerende boodskap
Christopher was 'n graad 10-leerder by die Helpmekaar Kollege in Johannesburg. Die Kollege het Dinsdag op Facebook met die volgende boodskap medelye betoon. "Een van ons eie is na Jesus toe. Christopher het vanoggend by Vleesbaai verdrink. Ons harte is stukkend. Ons gaan jou mis, Christopher."
Louis Botha, onderwyser by Helpmekaar Kollege, het die Mossel Bay Advertiser meegedeel dat hy net met lof kan praat van Christopher. "Hy was vriendelik, saggeaard en baie gewild en geliefd onder sy maats en die onderwysers. Hy was 'n goeie rugbyspeler en akademies baie sterk," het Botha gesê. Volgens Botha sal 'n gedenkdiens Maandag, wanneer die volgende kwartaal in aanvang neem, by die Kollege vir hul gestorwe leerder gehou word.
Sy broer Heinrich is 'n graad 9-leerder ook by Helpmekaar terwyl die jongste boetie, Luan, by Laerskool Louw Geldenhuys 'n graad 6-leerder is waar ma Nadia werksaam is in die finansiële afdeling.
Die Barnard-gesin het ná die tragiese voorval berading ontvang. Die polisie het intussen bevestig dat 'n geregtelike nadoodse ondersoek gedoen sal word en daar word op die finale verslag gewag.
Ander verdrinkings
Op Donderdag, 22 Desember 2022, is Marelise Krige (47) van Durbanville in die Kaap in die see by Vleesbaai deur 'n sleurstroom meegesleur. Ná kardiopulmonêre resussitasie op haar toegepas is, is sy egter op die toneel dood verklaar.
Jaco du Plooy (51), eienaar van 'n konstruksiemaatskappy op George, is op Donderdag, 5 Januarie, ook by Fransmanshoek deur 'n brander van die rotse geslaan. Hy en sy seun, Marco (19), en toekomstige skoonseun, Hyrone Brown (21), het die dag daar gehengel. Die NSRI het Du Plooy se liggaam uit die see gehaal, maar hy is ook op die toneel dood verklaar.
Vorige artikels:
Barries en Nadia Barnard.
Marelise Krige (47) van Durbanville in die Kaap het op 22 Desember in die see by Vleesbaai verdrink.
Jaco du Plooy (51) van George het op 5 Januarie tydens ‘n hengeluitstappie by Fransmanshoek verdrink.
Plaaslike inwoner Tommie de Beer, en sy familie van Noord-Wes, Erica en Sakkie de Beer het Woensdag tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek aan Fransmanshoek, die gebied waar 'n tragedie kort tevore afgespeel het, besoek. Die gebied staan as Die Saal bekend. Christopher Barnard (16) is 'n dag vantevore daar deur 'n brander van die rotse afgeslaan en het tragies verdrink. Foto: Jannie du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’