MOSSELBAAI NUUS - Alestain en Valerie Visagie is bitter trotse ouers en vandag pluk hulle die vrugte van jare se toewyding en die regte opvoeding deur hul tweeling-dogters.
Die tweeling, Alison Lorine en Alexis Janet, tans 30-jaar oud, het as drie-jarige kleuters by die Sunbeam-kleuterskool in D'Almeida begin om hul toekomspaaie oop te kerf.
Volgens die ouers was beide van hulle van die begin af baie getrou en hardwerkend.
Hulle was tot in graad een by Diaz Primêr waarna hulle hul laerskool-loopbane by die Laerskool Park voltooi het. Albei het in 2010 by die Hoërskool Punt matrikuleer.
Die susters het daarna verder gaan studeer aan die Universiteit Potchefstroom waar beide bestuursgrade as honneurs-studente verwerf het.
"Hulle het beide goeie betrekkinge. Alexis het weer begin aanlyn studeer en het op 25 Mei haar graad in arbeidsreg cum laude verwerf by UNISA," het die trotse ouers laat blyk.
Pa Alestain vertel verder. "Die tweeling stel nie belang om nou al gebind te word soos met 'n huwelik of kinders nie. Hul eie toekoms is meer van belang."
Daar is nog 'n jonger Visagie en die 22-jarige Armand is tans in sy derde jaar by die Universiteit van Johannesburg waar hy homself in openbare bestuur wil kwalifiseer.
Op 'n vraag wat hulle as ouers se bygedrae is tot die kinders se sukses antwoord Alestain; "Gebede tot ons Hemelse Vader dat ons kids sukses moet behaal en 'n verskil moet maak in andere se lewens." Buiten dit gee hulle as ouers soveel moontlik bystand tydens hul studies en ander aktiwiteite.
Trotse ouers Alestain en Valerie Visagie kyk elke dag net trots na die foto toe Alison haar graad ontvang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’