Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - “Stop die bail outs vir Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens en gee die geld eerder vir plaaslike regering waar armoede dag in en dag uit beveg word deur geleenthede te skep om die ekonomie te herbou.”
Dit was die woorde van Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, minister Anton Bredell tydens die amptelike opening van twee besigheidskomplekse in Mosselbaai op Vrydag, 9 Oktober.
Bredell het ook gesê dat die Wes-Kaapse regering 26 jaar na die demokratiese dispensasie, pynlik bewus is van die land se kritieke probleme soos armoede, werkloosheid en ongelykheid en dit is waarom dit so belangrik is om suksesse in ekonomiese ontwikkeling te vier.
Die D’Almeida Beehives en die Kwano-besigsheidskompleks is deel van die Wes-Kaapse regering se RSEP-program (Regional Socio-Economic Programme) en die ontwikkelingskoste het ongeveer R13.2 miljoen beloop.
Fotogalery: Besigheidskomplekse amptelik geopen
Bredell het verduidelik dat die RSEP-program daarop gemik is om lewenskwaliteit binne gemeenskappe te verbeter. Die RSEP-program het in 2013/14 begin danksy 'n €5 miljoen skenking bewillig deur die Duitse ontwikkelingsbank.
“Daar is ‘n oorvloed slegte nuus, veral vanweë die Covid-19-pandemie se effek op die ekonomie. Daarom gee dit my eindelose vreugde om vandag hierdie mylpaal te kan vier. Ook omdat dit toon hoe die provinsie, te midde van ‘n wêreldwye pandemie, hulle daarvoor bewyer om mense te lewens postief te verander.”
Beide besigheidskomplekse bied tans geleentheid 34 eenhede waaruit entrepreneurs kan sake doen.
Die D’Almeida Beehives, wat voorheen vraghouerwinkels was, is herbou, terwyl die Kwano-kompleks ‘n hele paar opwindende, gemeenskapsgerigte ekstras bied.
Kyk 'n video hieronder:
Hier, word ‘n motorwassery bedryf en is ‘n astro-ontspanningsarea, buitelug-gymnasium, verhoog vir optredes en speelgrond net die plek waar oud en jonk in die gemeenskap in ‘n veilige ruimte byeen kan kom. Pragtige muurskilderye maak die kompleks ook ‘n lus vir die oog.
Waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het met trots bygevoeg, dat dit ‘n besonderse voorreg is om, wat die projek se ontwikkeling betref, te kan sien wat verrys het uit twee oop areas waar daar voorheen niks was nie. “As ‘n besigheidsman, lé ekonomiese ontwikkeling by baie na aan die hart. My wens is, dat soos daar uit niks iets verrys het, dat die entrepeneurs wat sake doen by hierdie nuwe komplekse, se besighede ook sal opstaan en rys.”
Die stukrag agter die projek was befondsing deur die Mosselbaai-munisipaliteit, die provinsiale department vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, asook die nasionale departement vir die ontwikkeling van kleinsakeondernemings.
"Hierdie twee besigheidskomplekse is 'n uitstekende voorbeeld van goeie samewerking op verskeie regeringsvlakke," het Bredell gesê. Bredell het hom ten slotte ook verbind tot 'n "warm debat" oor begrotingsbesnoeiing. "Dit maak geensins sin dat R10,8 biljoen deur die nasionale regering begroot word om SAL te red terwyl plaaslike regerings se begroting besnoei word nie."
'n Vreudgevolle oomblik toe die Kwano-besigheidskompleks amptelik geopen word.
Reënweer het verhoed dat die opening van die D'Almeida- en Kwano-komplekse ter plaatse kon gebeur. Dansers het gaste tydens die formaliteite in die Mosselbaai-stadsaal vermaak.
'n Entrepreneur by die Kwano-besigheidskomplek verwelkom die waarnemende burgemeeste, Dirk Kotzé en minister Anton Bredell.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'