STILBAAI NUUS - Stilbaai NSRI Stasie 31 het tydens twee geleenthede in die afgelope week mense te hulp gesnel.
Volgens bevelvoerder Jean du Plessis het die eerste voorval op Woensdag, 5 Augustus omstreeks 15:00 gebeur.
CapeNature het hulp met hul soektog kuslangs na 'n 76-jarige inwoner gevra. Die man het nie op die verwagte tyd van sy fietsrit teruggekeer nie. Hy is uiteindelik in die Geelkrans-natuurreservaat opgespoor, waar hy ernstige beserings na 'n val van sy fiets af opgedoen het. Hy is per ambulans na 'n hospitaal in Mosselbaai vervoer na behandeling deur mediese beamptes van die NSRI op die toneel.
Volgens inligting aan Suid-Kaap Forum verskaf het die fietsryer, Nicol Retief Sondag, 9 Augustus aan sy beserings beswyk. Hy was 'n bekende sakeman van die Paarl.
In die tweede voorval op Donderdag, 6 Augustus is die bemanning uitgeroep om 'n vlieërplankryer by te staan. Hy het volgens 'n ooggetuie ongeveer 500m van Stilbaai-hawe af in die moeilikheid geraak en die water was besig om hom dieper in te trek.
Die 20-jarige man van Kaapstad is in die reddings-vaartuig Mercantile Spirit bereik en veilig opgelaai met al sy toerusting. Hy het geen beserings opgedoen nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'