Ofskoon heelparty bewaringsbewustes waarskynlik die hande omhoog sou wou gooi in reaksie hiertoe, is hierdie 'n kwessie van herstel en behoud, in teenstelling met die uiteinde van baie van Mosselbaai se ou geboue uit toeka se tyd wat goedsmoeds gesloop is.
Vrymesselaars, gestig in Mosselbaai in 1872, het hierdie gebou opgerig en in 1875 betrek as hul eerste losie. In 1881 is gevind dat die meerderheid lede Engelssprekend was. Daar is toe gestem en besluit om te bedank uit die Nederlandse Orde en aansoek te doen by die Britse Orde. 'n Nuwe losie is toe in 1885 in Marshstraat 45 in 1884 opgerig, waar dit vandag steeds is.
Die firma Fleming, Mudie & Co, 'n suksesvolle in- en uitvoerbedryf, het die Vrymesselaarslosie in Blandstraat betrek en onder die naam J Mudie & Sons gehandel. Sedertdien is verskeie besighede uit hierdie gebou bedryf.
Toe die gebou onlangs weer te koop was, het Ockert Fourie navraag gedoen by Erfenis Mosselbaai oor toelaatbare veranderings. Daar is ooreengekom dat, solank hy die straataansig na die oorspronklike restoureer, die beoogde interne veranderings toegelaat sou word.
Intussen het die loodgeute agter die kroonlys erg verweer en veroorsaak dat die mure deurweek is met water. Hierdie waterskade het Maandag sy tol geeïs toe die muur in duie gestort het. 'n Strukturele ingenieur, Hans Bosch, het bevestig dat die oorsponklike muur geen sement bevat nie, net kalk en modder wat die klip en rou stene bymekaar moes hou. Hy tree ook tans op as raadgewende in-genieur in die herstel van die gebou. Volgens hom gaan baie van die stene hergebruik kan word, maar 'n sterk sementmengsel word aanbeveel. Die moontlike inbou van 'n ekstra kolom om die buitemuur te versterk word ook oorweeg.
"Ek het 'n passie vir Mosselbaai," het Fourie aan die Advertiser gesê. "Ek dink dis die mooiste dorp en juis daarom glo ek dat die erfenis wat ons aan gebou het, behoue moet bly.

'n Deel van die eerste Vrymesselaarslosie (1875) in Blandstraat se vooraansig het vandeesweek ineengestort as gevolg van waterskade. Foto: Foto Expo