Gallery Video
TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Ter ondersteuning van die Million seats on the street-protes wat op Woensdag, 22 Julie gehou is, het restaurante in Hessequa asook in Mosselbaai en Hartenbos met oorgawe meegedoen.
Die protesaksie is deur die Restaurant Assosiasie van Suid-Afrika (RASA) gereël. Dié landswyse protes handel onder meer oor werksverliese in die gasvryheidsbedryf, wat volgens alle aanduidings massief blyk te wees.
Volgens RASA wou hulle met dié optrede die aandag op die groot hoeveelheid mense in die restaurantsektor wat hul werk tydens inperking verloor het omdat besighede gevou het, vestig.
Fotogalery: Restaurante protesteer saam
Fotogalery 2: Million seats on the street-protes
Kyk 2 video's hieronder:
Hessequa
Heidelberg, Riversdal, Albertinia, Stilbaai en Jongensfontein het aan die protesaksie deelgeneem. Deona Aucamp en Mariska Visagie van Suid-Kaap Forum het met restauranteienaars gesels.
Tony Jardim van On the Rocks wat die Stilbaai-optrede gekoördineer het, sê baie ondernemings het nou breekpunt bereik. "In 'n streek soos Hessequa maak die grootste deel van ons plaaslike ekonomie op toerisme staat. As die gasvryheidsbedryf op sy knieë gedwing word, volg 'n rampspoedige kettingreaksie."
Christo Shacks, eienaar van 'n bakkery op Albertinia sê hy het reeds 'n baie groot kapitale verlies gely. "Ek het 500 tot 600 brode per maand vir die restaurante op die dorp gebak. Dit is nou op 'n einde."
Vir Stephanie Thomas, eienaar van 'n kwekery en teetuin, is die kern van die protes om toerisme in die streek terug te kry. Dié sentiment word deur Theuns Coetzee van 'n bekende restaurant langs die N2 beaam. "Ek dink nie mense word genoegsaam in besluite wat hul toekoms raak geken nie. As dié protes tot groter konsultasie kan lei om werksgeleenthede te behou, het ons ons doel bereik."
Leonard McLaughlin wat 'n klein onderneming op die dorp bedryf, sê: "Ons is van mekaar afhanklik in so 'n klein gemeenskap. Ons ly almal omdat die voete baie minder is en baie restaurantpersoneel nie meer enige inkomste het nie."
Dollie Coetzee en Marietjie Coetzee wat albei gastehuise op Albertinia bedryf, sê dit raak onvermydelik dat personeel afgedank sal moet word. Anthony Doherty van Garden Route Game Lodge voel die regering kan meer doen om werksgeleenthede te red. Volgens Tinka Smal loop museums loop ook onder inperking se negatiewe effek deur.
Kelnerin Monique Burger van Heidelberg het die vrees in almal se harte goed verwoord. "Ek is bang ek gaan nie kos op my tafel kan sit nie."
Groter Mosselbaai
Leë tafels is deur personeellede van verskeie restaurante in Marshstraat en by die Punt, is in parkeerplekke voor die restaurante gepak ter ondersteuning van die Million seats on the street-protes. Jannie du Plessis van die Mossel Bay Advertiser berig dat protes ook hierdeur aangeteken is teen die regering se besluit om die drankverbod, asook die aandklokreël weer in te stel.
'n Groep ondersteuners van die protesaskie, waaronder nie net restaurantpersoneel nie, het aan 'n optog deelgeneem terwyl hulle baniere met slagspreuke vertoon het.
Die optog het vreedsaam verloop. Polisiebeamptes het die groep voorgekeer en gesê hulle sal die optog toelaat, maar het voorgestel dat hulle die optog in Marshstraat sou begelei. Die deelnemers het egter omgedraai en vreedsaam na hul onderskeie restaurante teruggekeer.
"Ons is op ons knieë en die regering maak dit vir ons onmoontlik om kliënte na ons tafels toe te bring," sê Liezl Jenkerson wat aan die optog deelgeneem het.
"Die gemeenskap moet saamstaan. Die toerismebedryf is besig om onder te gaan," het Shaun Mouton aan Mossel Bay Advertiser gesê.
Johan Coetzee, bestuurder van Delfino's sê: "Ons wil dieselfde ondersteuning geniet as die onwettige drank- en sigarethandel, begrafnisgangers en die taxi-industrie."
By die Hartenbos Seefront, het 'n klein groepie restaurantpersoneel ook hul stem dik gemaak. Op 'n video wat aan die Advertiser verskaf is, vertoon hulle plakkate en roep verwelkomend aan voornemende kliënte, "We are hungry. Come, have a seat".
Die personeel van On the Rocks op Stilbaai gereed om met hul tog deur die dorp te begin. Foto: Deona Aucamp
Restaurantpersoneel van verskeie restaurante in Mosselbaai het in die strate teen die regulasies ten opsigte van drank en die aandklokreël betoog. Foto: Jannie du Plessis
'We bring you the latest Garden Route, Hessequa news'