Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO'S - Jaar na jaar as die Dias Maritieme Museum in Februarie verjaar, word drome waar. Dít is nou as jy versot op koek is.
Hoewel die verjaarsdagkoek met sy fabelagtige afmetings soos iets uit 'n sprokie lyk, is dit inderdaad 'n reusetaak om dit aanmekaar te sit.
Volgens Chantal Masson, bobaasbakker van De Vlaming-bakkery wat jaarliks dié besonderse koek bak, is dit minstens 10 jaar al wat hulle hierdie projek aanpak. Van haar gunstelingkoeke was die een in die vorm van 'n karveel.
"Ek hou daarvan om elke jaar iets nuuts te doen."
Video: Dias Maritieme 33ste verjaardag
Reusetaak
Maar wat behels die maak van so 'n koek?
Dit verg 23 koeke met die afmetings, 28cm x 25 cm. Die finale produk van 1940mm x 700mm x 90mm, lewer 920 tot 1200 stukkies. Elke koek bestaan uit vier lae, met De Vlaming se befaamde botterroomversiersel tussenin. Hierdie resep is van Franse oorsprong en 'n unieke kenmerk van die bakkery se koeke.
Uiteindelik word 10kg botterroomversiersel gebruik en daarby 'n verdere 8kg gewone versiersel vir die bolaag. Chantal reken uit dat minstens 15kg meel en 10kg mielieblom gebruik word.
En hoeveel eiers?
"Verskriklik baie, want die beslag én die botterroom kry eiers. Weet jy hoe voel 'n mens na 'n dag van soveel eiers breek?" lag sy.
'n Span werk saam aan die koek vir ongeveer vyf dae en elkeen het 'n spesifieke taak. Voorheen is die bakkery se Vito-bussie gebruik vir die aflewering, maar vanjaar het die museum self die koek kom haal.
"Die koek kom nie by die deur uit nie, dus het die Mosselbaai Mall se sentrumbestuur ons toegelaat om die bussie in die gang tot voor die bakkery te trek."
Fotogalery: De Vlaming-bakkery voorsien koek vir Dias Maritieme Museum se verjaardag
'n Koek van hierdie proporsies kan tussen R12 000 en R25 000 kos. Oor die jare het die bakkery egter die museum tegemoet gekom, soos hulle ook gereeld ander gemeenskapsprojekte in die dorp ondersteun.
VIDEO: Dias Maritieme Museum se verjaardagkoek
In die gene
Bak is in hulle gene, verduidelik Chantal. Haar pa, Emile, oorspronklik van België, het op 12-jarige ouderdom 'n kursus in die kuns van bak voltooi. As 18-jarige verlaat hy die huis en het jare lank op passasierskepe gewerk voor hy eindelik in Suid-Afrika, by name Mosselbaai te lande gekom het.
"My pa is op 27 Desember 2021 oorlede," vertel Chantal. Hy was 75 jaar oud. Sy en haar suster, Mary-Anne Swanepoel hou egter jare reeds die fort by die bakkery, terwyl hul pa sy aftrede geniet het.
Die Dias Museum het gister, 3 Februarie hulle 33ste verjaarsdag gevier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'