MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit implementeer 'n nuwe meterlesingstender.
Watermeterlesings is uitgekontrakteur aan Ikapa Reticulation and Flow.
'n Nuwe lesingskedule word geïmplementeer wat daartoe mag lei dat lesingsdatums moontlik mag skuif.
Met die nuwe lesingskedule probeer die munisipaliteit om lesingsdatums nader aan heffingsdatums te bring, wat verbruikers in staat sal stel om beter kontrole oor verbruike te kan uitoefen deur vroeër bewus te word van hoë verbruike.
Impak op verbruikers
"Die skuif van lesingsdatums en implementering van die tender mag daartoe lei dat lesingsperiodes verskil van dit waaraan verbruikers gewoond was.
"U hoef egter nie bekommerd te wees dat u duurder vir dienste gaan betaal nie, aangesien die finansiële stelsel verseker dat niemand gepenaliseer kan word weens 'n langer of korter lesingsperiode nie.
"Soos wat die lesingsperiode langer of korter word, word die glyskale waarteen gehef word, ook groter of kleiner aangepas," berig die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Aangesien dit 'n nuwe kontrakteur is, mag dit gebeur dat sommige meters vir die eerste maand of twee nie gelees gaan word nie. Namate die kontrakteur meer bekend word met die ligging van meters, sal hierdie probleem stelselmatig verdwyn. Vir sodanige meters sal die munisipaliteit geskatte lesings moet gebruik.
Regstellings
"Ons stelsel stel egter ook hierdie heffings reg sodra 'n ware lesing verkry word en verbruikers sal dus nie gepenaliseer word nie.
Mosselbaai-munisipaliteit probeer om so spoedig moontlik weer 'n lesingspersentasie van bo 95% te haal en te handhaaf sodat skattings tot 'n minimum beperk word.
"Ons vra graag verbruikers se samerwerking om Ikapa by te staan tydens die implementerings-fase deur vrye toegang tot watermeters te verseker.
"Meterlesers behoort identifiseerbaar te wees met Ikapa-kleredrag en 'n Ikapa identiteitskaart. Indien persone nie duidelik identifiseerbaar is nie, kan u die munisipaliteit kontak.
"Verbruikers kan ook self hul lesing inbel om te verseker dat daar nie 'n skatting op die rekening gedoen word nie," nooi mnr Puren.
Kontak die munisipaliteit (044 606 5000) met navrae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'