MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit is een van weinige plaaslike owerhede wat steeds vir inwoners gratis swart en blou vullissakke voorsien vir die verwydering van huisafval.
Die swart sakke word gebruik vir huisafval wat op 'n stortingsterrein beland, terwyl die oogmerk met blou sakke is dat inwoners herwinbare afval, onder meer papier, blikke en bottels daarin buite die erf sal plaas sodat die kontrakteur wat vir herwinning verantwoordelik is, dit kan verwyder, gewoonlik op dieselfde dag as wat ander rommel en vullis verwyder word.
Anders as wat sommige inwoners mag reken, word sakke nie per maand nie, maar een keer per kwartaal afgelewer.
In die pakke is 13 swart en 13 blou sakke. Dit maak dus voorsiening vir een sak van elke kleur per week.
Indien meer sakke gebruik word, moet inwoners die res self aankoop.
"Ongeveer 31 000 verpakkings van sakke word kwartaalliks oor 'n tydperk van telkens drie tot vier weke versprei. Dit is prakties onmoontlik om in ag te neem by watter huishouding die inwoners dalk nie die dag by die huis mag wees, of wie het reëlings met hul bure getref om sakke vir hulle te kollekteer en te hou.
Die munisipaliteit kan nie weet wie met vakansie is en watter inwoners elders bly en net sekere tye van die jaar in die Mosselbaai-area is nie.
Talle vakansiehuise word verhuur en het dus op gereelde basis inwoners.
Vir 'n trok met werkers wat verbyry en sakke uitdeel is dit meestal onmoontlik om te sien of iemand tuis is of nie. Om vir verskillende huise en woonbuurte afsonderlike reëlings te tref, is nie prakties haalbaar nie.
"Indien 'n inwoner besef dat sakke uitgedeel is en almal in die straat of omgewing dit reeds ontvang het (dit mag soms meer as een dag neem om sakke in 'n hele area te versprei), maar dat hulle woning nie gekry het nie, kan sakke by die munisipaliteit se kantore in die Plaza Aquada-gebou in Marshstraat by die vullisbestuurafdeling afgehaal word," sê die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai nuus'