MOSSELBAAI NUUS - Fanie Mollentze het die afgelope naweek behoorlik amok gemaak in die Mosselbaai-posduifklub se ope wedvlug vanaf Victoria-Wes (230km) toe hy twee duiwe gelyk gekry het om vir hom onderskeidelik die eerste en tweede plekke in die klub in te neem.
In minder as 'n minuut later klok hy nog 'n duif om vir hom die derde plek in die klub in te neem. Die vierde en vyfde plekke word onderskeidelik deur Jan Marais en Daan Stander ingeneem.
Nege van Fanie se duiwe neem vir hom plekke onder die eerste 30 posisies in die klub in. Dit wil beslis gedoen word in 'n klub met 24 aktiewe lede.
Rob Edwards het weer eens bewys dat sy jarelange ondervinding in die duiwesport steeds 'n faktor is toe hy die eerste plek in die jaaroud wedvlug met meer as 'n minuut wen.
Dit is sy tweede wen vir die seisoen en wil beslis óók gedoen wees. Die res van die top vyf plekke in die klub word deur Jan Marais (2de), Hartman Hokke (3de en 4de) en Tol Nel (5de) ingeneem.
Juniors
In die junior afdeling van die klub het Zante Strydom sy stem die naweek dikgemaak toe hy die eerste en tweede plekke in die ope afdeling klok en ook met 'n goeie derde plek in die jaaroud afdeling spog. Hy klop sy oupa, Casper le Grange wat in die senior afdeling vlieg met beter tye in beide afdelings.
Carel Grové spog met die derde en vyfde plekke in die ope-afdeling van die juniors en Marinus van der Mescht met die vierde plek.
In die jaaroud afdeling van die juniors het die jong Tashinga Kadye eerste, tweede en vierde geklok, Zante derde en Logan Boshoff vyfde.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'