MOSSELBAAI NUUS - Vleesbaaiers Martin en Wilna van der Walt, wie se dogter Marelise Krige (47) Donderdag, 22 Desember op die Vleesbaai strand verdrink het, terwyl sy en haar gesin by hulle gekuier het, word oorleef deur haar man, Willem en drie kinders Marlé (19), Alida (16) en Daniël (13).
Volgens 'n familielid was Marelise saam met haar gesin op die volgepakte strand toe sy en ander swemmers deur die sleurstroom meegesleur is.
Die seetoestande was onstuimig wat toegeskryf word aan die sterk Suidooster wat Woensdag gewaai het. Volgens omstanders het Marelise 'n drenkeling gehelp sover sy kon.
Sy moes vir haar en die persoon se lewe veg. Al die ander mense het veilig uit die see gekom, behalwe sy.
Volgens Marelise se niggie, Bea-Mari Bernard, is die gesin en familie gebroke oor Marelise se onverwagse heengaan.
"Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap van Vleesbaai in hierdie moeilike tyd. Die begrafnis sal vroeg volgende jaar in Durbanville plaasvind, maar daar is nog nie amptelike reëlings getref nie."
Marelise was die bedieningsvoorsitter van die NG gemeente Durbanville-Bergsig. Die KwaNonqaba-polisie is besig met 'n geregtelike doodsondersoek.
Lucia van der Walt (suster), Bea-Mari Bernard (niggie) en Marelise Krige wat Donderdag, 22 Desember by Vleesblaai verdrink het, terwyl sy drenkelinge gehelp het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'