Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Posduifsport lok mense van alle ouderdomme. Die agt-jarige Jula Meyer, van Danabaai, se belangstelling in die sportsoort, kan beskryf word met die Engelse spreekwoord wat sê 'like father, like daughter'.
John Meyer, pa van klein Jula, het in die Paarl grootgeword en dit is hier waar hy van jongs af self met duiwe en voëls geboer het, in 'n gemeenskap waar rugby en posduiwe Saterdae se hoogtepunt was.
So het Jula van kleins af maar die liefde vir diere en sport van haar pa geleer en tans besit sy 30 duiwe waarmee sy as junior verlede jaar by die Mosselbaai-posduifklub, baie goed gevaar het. "Tot dusver vaar ons vanjaar nog nie so goed nie want die kompetisie onder die duiweboere in Danabaai is baie sterk en veral die opkomende juniors doen baie goed," vertel John.
Jula, 'n graad 3-leerder by Light House Academy op Mosselbaai, beklemtoon egter dat posduiwe nie regtig haar grootste liefde is nie, maar wel sport. "Ek sal graag eendag as ek groot is, sokker wil speel en met perde ry," vertel sy aan die Mossel Bay Advertiser.
"Sy is baie lief vir ons drie honde en toe die duiwe kom het sy vir hulle ook lief geraak," sê John. Jula sê die posduiwe neem baie tyd in beslag en tussen haar skoolwerk en ander sportverpligtinge het sy nie só baie tyd om aan hulle ook te spandeer nie, maar sy bly baie lief vir hulle.
VIDEO - Liefde vir diere en sport 'n passie vir 8-jarige.
Pa John beaam dit en sê dat hy ook meer tyd met sy duiwe sou wou spandeer, maar tussen sy werk en om Jula rond te ry met al haar bedrywighede, is dit nie altyd moontlik nie. As hy kans kry is hy egter in die hokke wat van kleins af een van sy groot liefdes is.
Nadat die Meyers na Danabaai verhuis het, het die plaaslike duiweboere hom inspireer om weer 'n hok te bou en duiwe aan te skaf. John en Jula oefen gereeld hul duiwe en dié pa-en-dogter-kombinasie gaan sekerlik nog groot naam maak in Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'