Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO'S - Die uitsonderlike en geliefde hoof van Hillcrest Sekondêre skool in Mosselbaai, Ivan Gregory Kroneberg, is as die ATKV se 2022 Afrikoon aangewys.
Die gesogte toekenning gee erkenning aan Suid-Afrikaners wat 'n uitstaande bydrae tot die gemeenskap maak en Kroneberg het Afrikoon-status ontvang vir sy lewenslange toewyding aan die opleiding en opheffing van leerders.
Gesels jy met Kroneberg oor die toekenning, is dit gou duidelik dat sy grootste passie is om met kinders te werk en sodoende hul omstandighede deur middel van opvoeding te verbeter.
Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om self 'n rolmodel te wees om verandering in kinders se lewens te bewerkstellig en waarde toe te voeg tot hul lewens. Na 35 jaar in die onderwys, het hy al dikwels ervaar hoe dit die hele gemeenskap dan positief beïnvloed.
Die voorsitter van die ATKV-tak in Hartenbos, Japie Gouws, sê Kroneberg verdien dit oor en oor om vereer te word. "Die ATKV is bekommerd oor die gehalte van onderwys in Suid-Afrika en daarom is iemand soos mnr. Kroneberg 'n ongelooflike bate vir die Mosselbaai-gemeenskap."
VIDEO: Japie Gouws, voorsitter ATKV Hartenbos
VIDEO: Ivan Kroneberg gesels oor die Afrikoon
VIDEO: Ivan Kroneberg, wenner van ATKV se Afrikoon
VIDEO: Ivan Kroneberg gesels oor die belangrike rol wat opvoeders in 'n gemeenskap speel.
Die departement van basiese onderwys se nasionale onderwystoekenning-afdeling het ook in 2021 'n lewensprestasie-toekenning vir die Wes-Kaap aan Kroneberg toegeken.
Ivan Kroneberg en Sophia Nelson, rekeningkunde-onderwyser by Hillcrest Sekondêre skool.
Groot impak
Die ATKV sê Kroneberg het sedert sy aanstelling as hoof by Hillcrest in 2018, 'n groot impak by die skool gemaak wat in daardie tyd 'n donker era beleef en ernstige probleme ervaar het. Dit was Kroneberg se opdrag om wanpraktyke uit te wis en om die skool in alle opsigte reg t
e ruk. En nou, minder as vier jaar later, het hy reeds ver gevorder met sy doelwit om Hillcrest in 'n uitstekende skool te ontwikkel. Een voorbeeld hiervan is die verbetering in die matriekslaagsyfer van 68% in 2018 tot 90,7 % in 2021.
Kroneberg sê dit is uiters belangrik om op basiese norme en waardes, soos dissipline en stiptelikheid, te fokus.
Agtergrond
Hoewel Kroneberg eintlik 'n stads- en streeksbeplanner wou word, kon hy amper nie anders as om in die onderwys op te eindig en te presteer nie. Sy pa was 'n onderwyser en nege van sy 10 sibbe was almal in die onderwys betrokke. Kroneberg se vrou, Pearl (gebore Briesies) is ook 'n onderwyser. Sy is oorspronklik van Mosselbaai en die rede hoekom hulle hierheen verhuis het.
Kroneberg het sy loopbaan in Macassar begin, waar hy bykans 14 jaar aardryks-kunde gegee het. Hier het hy gou besef watter geweldige impak 'n rolmodel op kinders het. Hy is daarna na Blackheath, 'n woonbuurt buite Kuilsrivier, waar hy vir vyf jaar departementshoof was. In 2006 word hy aangestel as adjunkhoof by Forest Heights in Eersterivier, en 17 maande later, op die ouderdom van 43, as prinsipaal.
In April 2018 begin hy by Hillcrest, waar die meeste van die skool se leerders blootgestel is aan gemarginaliseerde omstandighede soos armoede, misdaad, dwelms en bende-aktiwiteite.
Kroneberg sê as probleme in 'n kind se gedrag opduik, is huishoudelike probleme gewoonlik die rede. Ouerbeheer en die ondersteuning van ouers is baie belangrik om kinders met probleme te help.
Hy beskou dit as sy lewensroeping om sy leerders se selfbeeld en selfvertroue op te hef. Sodoende styg hulle bo hul omstandighede uit.
Kroneberg sê die vestiging van 'n opbouende waardestelsel is deurslaggewend om negatiwiteit aan te spreek.
Waardes wat nagestreef moet word is entoesiasme, verantwoordelikheid, menslikheid, hoop, respek, toegewydheid, integriteit, empatie, diversiteit, vriendelikheid, volharding en uitmuntendheid.
Waardes wat eie is aan Mosselbaai se trotse Afrikoon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'