MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Klein-Brakrivier VLV was die afgelope paar weke besiger as bye... met onder meer verskeie werkswinkels wat hulle aangebied en bygewoon het.
Op 18 Mei het hulle 'n suksesvolle Hoek-tot-Hoek-Hekelwerk (C2C, corner to corner) werkswinkel aangebied met taklid Joey Gouws as die aanbieder.
Verskeie VLV-taklede uit die SWD-streek, wat die oggend meegemaak en baat gevind het by Joey se vriendelike en gemaklike aanbieding, het die tegniek sommer gou onder die knie gekry.
Volgende was 'n kreatiewe boekbespreking werkwinkel wat op 24 Mei deur die tak georganiseer en deur voorsitter Lydie Terblanche aangebied is. Hierdie geleentheid is ook deur VLV-lede van die SWD-streek bygewoon.
Klein-Brakrivier taklede was ook deel van die Hekel Safari-marathon wat op 26-27 Mei gehou is en teen afsnytyd (30 ure se werk), 'n nuwe rekord van 70 805 blokkies landwyd, opgestel het.
Landbou-kwessies
Verder het Klein-Brakrivier taklede ook op 29 Mei dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou, se relevante praatjie oor landbou-kwessies in die Wes-Kaap, op Groot-Brakrivier bygewoon.
Die geleentheid is georganiseer deur raadslid Annatjie Janse van Rensburg in samewerking met vroue van die NG Kerk Groot-Brakrivier en administratiewe ondersteuning van die Klein-Brakrivier tak se voorsitterspan. Klein-Brakrivier taklede het die pragtige handgemaakte proteas op die verhoog gemaak.
Dinsdag, 30 Mei, was die tak se openbare sake byeenkoms onder leiding van sameroeper Denise Taljaard. Die gasspreker was Kobus Kuyler met sy liefdevolle skaduwee, Duke, die boerboel. Kuyler is die ondervoorsitter van die Groot-Brakrivier Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF).
Nog was dit nie die einde nie en op 1 Junie hou hulle 'n Shabby Chic-werkwinkel, onder leiding van vise-voorsitter Lynette Nel. 'n Weefwerkswinkel wat deur taklid Retha Nagel aangebied gaan word, sowel as 'n koekie-versier werkswinkel deur Eda van Cake Petal, is vir Junie in die vooruitsig.
Vir meer besonderhede oor Klein-Brakrivier VLV tak se bedrywighede, bywoning of om aan te sluit, kontak Lynette (083 448 5548) of Leedee (082 928 5624).
Klein-Brakrivier taklede wat deel was van die Hekel Safari-marathon.
Klein-Brakrivier voorsitter-span, Lynette Nel (vise-voorsitter) en Lydie Terblanche (voorsitter), by dr Ivan Meyer se aanbieding.
Gerda Siebert was deel van boekbespreking.
Kobus Kuyler en sy hond Duke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’