Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - In die algemeen is die terugvoering nadat Mosselbaai vir die eerste keer gasheer was vir die Afrikaans is Groot Somerfees, positief. Op sosiale media het dit gegons oor hoe feesgangers die konsert, aangebied by die Van Riebeeck-stadion, geniet het.
Top kunstenaars het die gehoor al dansende en singende gehad op 28 Desember toe dié skouspel, nagenoeg 20 000 mense gelok het.
Verkeer het stadion toe getou en liefhebbers van Afrikaanse musiek se geduld is op die proef gestel toe hulle tot twee ure in lang rye moes staan om toegang tot die terrein te verkry. Vir baie, te oordeel aan inskrywings op sosiale media, was dít egter deel van die pret in aanloop tot die konsert.
Kyk 'n video hieronder:
Daar is egter ook op sosiale media gemor aangaande die logistieke reëlings. Sommige wat vooraf vir die konsert bespreek het en aanlyn kaartjies gekoop het, beweer dat hulle by die toegangshek na die fees weggewys is. Ander het weer gekla dat hulle nie verby van die tente kon sien nie en dat die rye by stalletjies waar kos en drinkgoed gekoop kon word, te lank was. Heelwat persone het gekla oor die gebruik van die Howler-sisteem waarvolgens eet- en drinkgoed aangekoop moes word. Van die klagtes was dat geld wat vooraf op die Howler-sisteem gelaai is, later nie teruggekry kon word nie, selfs nie ná die konsert aanlyn nie. (Sien brieweblad).
Die organiseerders het in aanloop van die tweede konsert op 31 Desember, Alternatief is Groot, aanpassings gemaak na aanleiding van die klagtes ontvang. "Ons het die uitleg verander en die stalletjies geskuif. Die getalle vir vanaand word afgesluit op slegs 10 000 mense. Daar is dubbeld die sekuriteitspersoneel en ons het ook meer skandeerders wat vanaand sal diens doen," het een van die organiseerders, Eduard Hugo voor die konsert op 31 Desember by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Daar is ook deur die bestuurspan te kenne gegee in 'n persverklaring op sosiale media, dat hulle alle klagtes ter harte neem en juis voornemens is om, wat toekomstige konserte betref, daaraan aandag te gee.
Die Advertiser het in die lig hiervan kommentaar van die organiseerders gevra. Aangesien lede van die span tans 'n welkome blaaskans vat, het hulle versoek om in 'n volgende uitgawe op vrae te reageer.
Al die groot name in Afrikaanse musiek op een verhoog. Foto: Julian Scholtz
'n Besielde Corlea Botha.
Snotkop tydens 'n speelse oomblik.
Jack Parow op sy stukke.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'